Nuus 09:00
BULLETIN 15 Julie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Tau sal ‘n hersiening van bilaterale betrekkinge met die VSA bespreek
# Meer as 158-duisend mense word deur die oorstromings in Kaapstad geraak
# En die Internasionale Geregshof sal dié week sy siening oor die Israelse besetting gee
# Die minister van Handel, Nywerheid en Mededinging, Parks Tau, sê hulle sal met Amerikaanse wetgewers vergader oor planne om bilaterale betrekkinge met Suid-Afrika te heroorweeg. Die verhouding tussen die twee lande is gespanne weens Suid-Afrika se standpunt oor Israel en sy verhouding met Rusland, China en Iran. Die minister sal volgende week ‘n hoëvlak-afvaardiging na Washington lei vir die beraad oor die Wet op Groei en Geleenthede in Afrika. Tau sê hy sal die regering se posisie oor ʼn wye reeks kwessies verduidelik. Suid-Afrika is Amerika se grootste handelsvennoot in Afrika.
# Die Stad Kaapstad se Ramprisikobestuursentrum sê sowat 158-duisend-en-97 mense is sedert die derde van die maand deur vloede geraak en 47-duisend-633 strukture is beskadig. Die stad het verwoestende weertoestande die afgelope twee weke ondervind. Die sentrum se woordvoerder, Charlotte Powell, sê amptenare is steeds besig met beramings in gemeenskappe terwyl oproepe deurlopend aangeteken word:
# KwaZulu-Natal se LUR vir Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, Thulasizwe Buthelezi, het boere wat deur veldbrande geraak word, verseker hulle sal ondersteun word. Minstens tien mense is dood en gebiede soos King Cetshwayo, Nkandla, Mlalazi en Zululand-distrikte het erg deurgeloop. Die LUR se woordvoerder, Senzelwe Mzila, sê boere het na raming meer as een-duisend-600 diere verloor:
# Die Internasionale Geregshof sal Vrydag sy mening oor die regsgevolge van Israel se besetting van Palestynse gebiede sedert 1967 uiteensit. Meer as 50 lande het voorleggings oor die saak gedoen. Waarnemers sê hoewel die hof se mening nie bindend is nie, volg dit te midde van toenemende internasionale druk op Israel oor die oorlog in Gaza, wat gevolg het op Hamas se aanvalle op 7 Oktober. Die saak is afsonderlik van die een wat Suid-Afrika teen Israel ingedien het vir beweerde volksmoord tydens sy offensief in Gaza.
# Sokker: Spanje het Engeland met twee-een geklop om die Europese Kampioenskap vir ‘n ongekende vierde keer in te palm. Mikel Oyarzabal het in die 86ste minuut die wendoel vir La Roja aangeteken na die plaasvervanger, Cole Palmer, die speler van die wedstryd Nico Williams se eerste doel vir Spanje gelykgemaak het. Spanje het al sewe wedstryde in die toernooi sonder enige strafdoele gewen wat ‘n rekord vir die toernooi is. Engeland is die eerste span wat twee agtereenvolgende Europese eindstryde verloor het. Die bestuurder Gareth Southgate sê hy is teen die grond, maar steeds uiters trots op sy spelers:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-97-sent teen die dollar, 19-rand-59-sent teen die euro en 23-rand-33-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-485-dollar-19-sent. Die prys van goud is twee-duisend-410-dollar-90-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 85-dollar-11-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….