Nuus 09:00
BULLETIN 13 Julie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die minister van Kommunikasie vra samewerking om datakoste te verlaag
# Twee-en-twintig leerders sterf toe skool in Nigerië ineenstort
# En, tennis: Dit is wéér Djokovic teen Alcaraz in die Wimbledon-eindstryd
# Die minister van Kommunikasie, Solly Malatsi, sê dis noodsaaklik om die bekostigbaarheid van data te verbeter deur samewerking met die Inligting- en Kommunikasie-sektor. Malatsi het teenoor die SABC beklemtoon hoe belangrik data is om inligting te bekom. Hy het gewys op die vordering wat gemaak is deur die SA Connect-projek wat verbinding in openbare plekke en regeringsgeboue verbeter het met gratis WiFi-punte. Hy benadruk die mandaat is om betroubare toegang tot verbinding te verseker:
# Die Mineraleraad van Suid-Afrika sê die onlangse jaarverslag van sy Masoyise-gesondheidsprogram onthul ‘n voortgesette verbetering van gesondheid onder mynwerkers. Masoyise is in 2016 bekend gestel en fokus op tuberkulose, HIV en beroepsgerigte longsiektes en sluit nou ook geestesgesondheid en nie-oordraagbare siektes in. ‘n Woordvoerder van die raad, Allan Seccombe, sê die verslag wys die voorkoms van TB het gedaal tot 223 per 100-duisend verlede jaar vanaf 236 in 2022, beter as die nasionale teikens:
# Die ineenstorting van ‘n skool in sentraal-Nigerië het die lewens van 22 leerders geëis. Na wat berig word het die jeugdiges gister eksamens afgelê toe geboue by die Saint Academy-skool in die Jos North-distrik van die Plateau-staat ineengestort het. Talle kinders is onder die puin van die klaskamers vasgekeer met ouers wat desperaat na hulle kinders gesoek het terwyl reddingswerkers swaar masjinerie in hulle soektog gebruik het. Minstens 130 leerders is beseer en word in plaaslike hospitale behandel.
# Tennis: Novak Djokovic kan sy 25ste Grand Slam-titel inpalm na hy die Italiaanse buiteperd Lorenzo Musetti geklop het om môre se Wimbledon-eindstryd te haal. Die Serwiër het ‘n yslike botsing met die heersende kampioen Carlos Alcaraz op hande in ‘n herhaling van verlede jaar se eindstryd. Die 37-jarige Djokovic het die rekord van agt mans enkelspeltitels geëwenaar met sy 6-4, 7-6, 6-4-oorwinning oor die 22-jarige Musetti. Alcaraz het Djokovic verlede jaar in ‘n epiese stryd van vyf stelle geklop, wat as een van die beste wedstryde ooit beskou word.
# En, op ‘n olierige noot: Amptenare in die suide van Italië het ‘n beweerde bedrogspul oopgevlek wat vervalste olyfolie verkoop, en beslag gelê op 42-ton van die ekstra-suiwersoort wat meer as 18-miljoen-rand werd is. Van die olie was reeds verpak en reg om verkoop te word. Die owerhede het beslag gelê op wat ‘n “olierige stof” genoem word in plastiektenks, sowel as 623-liter chlorofil, ‘n bestanddeel van ekstra-suiwerolyfolie wat by olie van mindere waarde gevoeg word. Die owerhede het ook op 174 bottels sjampanje beslag gelê, wat glo vals is.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….