Nuus 09:00
BULLETIN 11 Julie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die nuwe voorsitter van die portefeuljekomitee oor Polisie is gereed om Suid-Afrika veiliger te maak
# Equal Education wil hê Zizi Kodwa moet as parlementslid verwyder word
# En vandag is Wêreldbevolkingsdag
# Die DA-parlementslid, Ian Cameron, is die nuwe voorsitter van die Polisie-portefeuljekomitee en sê hy is gereed vir die taak om die land ‘n veiliger plek te maak. Die voormalige aktivis teen misdaad het hom gereeld uitgespreek teen die polisie se mislukkings, veral onder leierskap van die gewese minister van Polisie, Bheki Cele. Cameron sê die komitee beplan behoorlike oorsig oor die polisiediens en sal dit aanspreeklik hou:
# Equal Education dring aan dat Zizi Kodwa, wat van korrupsie beskuldig word, as parlementslid en lid van die Basiese Onderwys-portefeuljekomitee verwyder word. Die voormalige minister van Sport, Kuns en Kultuur staar aanklagte van korrupsie in die gesig omdat hy blykbaar meer as 1,7-miljoen-rand as gunsloon van die gewese EOH-hoof, Jehan Mackay, ontvang het. Equal Education sê die aanklagte wek ernstige kommer oor Kodwa se geskiktheid vir die rol in die nasionale wetgewer. Hy sê die belangrikheid van etiese regering en die hoogste vlakke van integriteit kan nie oorbeklemtoon word nie.
# President Cyril Ramaphosa het sy hartseer uitgespreek oor die 12 leerders in Gauteng wat gister dood is. ʼn Ford-Bakkie het teen ʼn skoolbus in Merafong, Carletonville, gebots en die leerders en hul busbestuurder se lewens geëis. Ramaphosa se woordvoerder, Vincent Magwenya, sê die tragedie wat ongelukkig nie die eerste van sy soort is nie, vereis dat alle rolspelers hulle verpligting om kinders beskerm, na behore nakom:
# Sokker: ‘n Doel deur Ollie Watkins laat in die wedstryd het Engeland laat deurdring na die eindstryd van die Europese Kampioenskap. Hulle sal Sondag in Berlyn teen die driemalige kampioene, Spanje te staan kom. Engeland het Nederland met twee-een in hulle halfeindstryd geklop. Die span, bekend as die Drie Leeus, hoop om op hulle vorige vertoning van die Euro 2020-kompetisie te verbeter toe hulle met strafdoele teen Italië verloor het. Die bestuurder Gareth Southgate sê om nog ‘n eindstryd te haal is ‘n baie groot prestasie vir die span:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-9-sent teen die dollar, 19-rand-61-sent teen die euro en 23-rand-27-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 57-duisend-872-dollar-54-sent. Die prys van goud is twee-duisend-381-dollar-95-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 85-dollar-73-sent per vat.
# En ten slotte, vandag is Wêreldbevolkingsdag met die tema Leave no one behind, count everyone. Daar is tans agt miljard mense in die wêreld. Die dag wat die Verenigde Nasies ingestel het, fokus op die belangrikheid van bevolkingsverwante kwessies soos seksuele gesondheid, gesinsbeplanning, geslagsgelykheid en volhoubare ontwikkeling. Die VN se sekretaris-generaal, António Guterres, sê beleggings in data-insameling is belangrik om probleme te verstaan, oplossings te vind en vooruitgang te dryf.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….