Nuus 09:00
BULLETIN 3 Augustus 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Ramokgopa sê ekonomiese groei en swart ekonomiese bemagtiging is nie onversoenbaar nie
# Die EFF verwelkom die bekendstelling van die Inkontrakteringswetsontwerp
# En laastens: Strictly Come Dancing TV-sterre word beskuldig van kokaïen-gebruik
# ‘n Nasionale uitvoerende komiteelid van die ANC, Kgosientsho Ramokgopa, sê die kwessie van ekonomiese groei en die nastrewing van swart ekonomiese bemagtiging is nie onversoenbaar nie. Hy sê die besluit van president Donald Trump om ‘n straftarief van 30-persent op Suid-Afrikaanse uitvoere in te stel, het niks te doen met ‘n beleid soos Swart Ekonomiese Bemagtiging of die onteiening van grond sonder vergoeding nie. Ramokgopa sê die faktore wat groei in Suid-Afrika ondermyn, sluit nie Swart Ekonomiese Bemagtiging in nie:
# Die onderwysaktivis Hendrick Makaneta sê die aanstelling van regter Dunstan Mlambo as Adjunkhoofregter is ‘n stap vorentoe, nie net vir die regstelsel nie, maar ook vir alle sektore soos onderwys. Hy sê Mlambo se aanstelling is ‘n belangrike stap vir Suid-Afrika, veral vir diegene wat glo in ‘n regbank wat billikheid, transformasie en die beskerming van grondliggende regte voorstaan. Makaneta sê Mlambo het deurgaans ‘n diep verbintenis getoon tot geregtigheid vir mense wat as onbelangrik beskou word:
# Die EFF het die bekendstelling van die Inkontrakteringswetsontwerp in die Nasionale Vergadering as ‘n Privaatlid-wetsontwerp verwelkom. Dit is ingedien deur sy tesourier-generaal, Omphile Maotwe. Die party sê die doel is om die staat op alle vlakke te dwing om noodsaaklike en gereeld benodigde dienste uit eie geledere aan te vul. Die EFF sê die kern van Suid-Afrika se ineenstorting is gesetel in die uitkontraktering aan derde party-diensverskaffers. Volgens die party het dit gelei tot wydverspreide korrupsie, die manipulasie van die tenderstelsel, buitensporige pryse en die uitbuiting van werkers.
# Sportnuus:
# Rugby: Die Leeus het gistermiddag ‘n oortuigende oorwinning van 40-19 oor die Westelike Provinsie in Johannesburg behaal. Hulle het nou vyf punte op die punteleer bygevoeg vir elk van die twee wedstryde wat hulle tot dusver in hierdie seisoen se Curriebeker-kompetisie gespeel het. Die Leeus het vyf drieë en ‘n strafdrie gedruk teenoor die WP se drie drieë. Die Bulle en die Leeus is boaan die punteleer met tien punte elk, gevolg deur die Cheetahs met sewe en die Pumas met ses. Die Haaie en Westelike Provinsie is heel onder sonder enige punte na twee wedstryde elk.
# Motorsport: Charles Leclerc het in ‘n uitsonderlike laat ronde geslaag om die voorste wegspringplek by die Hongaarse Grand Prix in te palm. Gister se kwalifiseringsronde was een van die strafste sessies in Formule Een-geskiedenis en het Leclerc vir die eerste keer in sy loopbaan voor laat wegspring in Hongarye. Dit was ook sy en Ferrari se eerste van die seisoen, en die 27ste van sy loopbaan. Die twee McLaren-jaers sal tweede en derde wegspring, voor Mercedes se George Russell in die vierde plek. Red Bull se viermalige kampioen Max Verstappen is agtste, met die sewemalige wêreldkampioen Lewis Hamilton 12de.
# En ten slotte: Die BBC het gereageer nadat twee Strictly Come Dancing-sterre beskuldig is dat hulle kokaïen gebruik het. Volgens The Sun on Sunday het die uitsaaier glo ‘n regsfirma aangestel om die bewerings te ondersoek. Die BBC het aan Sky News gesê hulle het duidelike protokol en beleid vir die hantering van enige ernstige klagtes. Dit is die jongste krisis wat die gewilde program tref. In Julie verlede jaar het Amanda Abbington die danser Giovanni Pernice van beledigende gedrag beskuldig. Laura Whitmore het ook bewerings gemaak oor onbehoorlike gedrag tydens haar tyd op die program.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….