Nuus 09:00
BULLETIN 9 Julie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die bestuurshoof van Eskom sê munisiplaiteite se skuld kan nie afgeskryf word nie
# Die Gautengse polisie red twee ontvoeringslagoffers in Benoni
# En die Withuis verwerp bewerings dat Biden vir Parkinson se siekte behandel word
# Eskom se hoof, Dan Marokane, sê hulle kan nie bekostig om munisipaliteite se skuld af te skryf nie. Die minister van Elektrisiteit en Energie, Kgosientsho Ramokgopa, waarsku munisipale skuld aan Eskom kan teen 2050 tot 3,1-duisend-miljard-rand toeneem. Munisipaliteite skuld die kragverskaffer tans 78-miljard-rand. Marokane het aan Newzroom Afrika gesê ten spyte van verlede jaar se munisipale hulppakket van die Nasionale Tesourie, neem agterstallige skuld steeds toe:
# AutoZone, Suid-Afrika se grootste voertuig-onderdele-kleinhandelaar, is onder sakeredding weens onoorkombare skuld. ‘n Privaat aandeleskema uit 2014 het nie voldoen aan verwagtinge nie, en die voorste uitlener, Absa het in Junie geweier om skuld te verleng. Die sakereddingspraktisyns Piers Marsden en Jenna Osbourne is aangestel. AutoZone is in 1999 gestig en het takke op op 190 plekke, met meer as een-duisend-450 werknemers. Die maatskappy het agteruitgegaan weens Covid-19, burgerlike onluste en stagflasie.
# Die elite-eenheid van Gautengse polisie se spesiale taakmag het gister twee ontvoeringslagoffers in ‘n informele nedersetting in Crystal Park, Benoni, Ekurhuleni gered. Die mans van 64 en 34 is albei ontvoer terwyl hulle Sondag in Putfonteinweg in Crystal Park gery het. Polisiewoordvoerder Athlenda Mathe sê die ontvoerders het onmiddellik ʼn losprys by die slagoffers se families geëis:
# Die Withuis verwerp bespiegelings dat president Joe Biden vir Parkinson se siekte behandel word. Vrae oor die president se verstandelike vermoë het toegeneem sedert sy swak vertoning in verlede maand se debat teen oudpresident Donald Trump. Die Withuis se besoekersboek toon dokter Kevin Cannard, ʼn kenner van Parkinson se siekte, het die Withuis die afgelope jaar agt keer besoek. Biden se huisdokter, Kevin O’Connor, sê die president het siftingstoetse vir verskeie neurologiese toestande, insluitend Parkinson se siekte ondergaan, maar die uitslae was negatief.
# Gholf: Keegan Bradley is aangewys as kaptein van Amerika se span vir volgende jaar se Ryder-beker teen Europa op die Bethpage Black-baan in New York. Die vyftienmalige Major-wenner Tiger Woods was skynbaar die eerste keuse vir die kapteinskap, maar het dit van die hand gewys. Bradley het net een Major-titel gewen – die 2011 Amerikaanse PGA-kampioenskap – en was in 2012 en 2014 in die Ryder-verloorspanne. Amerika se PGA-president, John Lindert, sê Bradley se ondervinding met die Ryder-beker is waardevol.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-12-sent teen die dollar, 19-rand-63-sent teen die euro en 23-rand-21-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 57-duisend-186-dollar-12-sent. Die prys van goud is twee-duisend-367-dollar per fynons en die prys van Brent ruolie 85-dollar-48-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….