Nuus 09:00
BULLETIN 29 Junie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die IVP vra die ANC en DA om kwessies oor doeltreffende bestuur op te los
# Zelensky beloof ‘n omvattende plan om die oorlog tussen Oekraïne en Rusland te beëindig
# En, fietsry: Vingegaard begin veldtog vir derde agtereenvolgende Tour de France-titel
# Die IVP-leier, Velenkosini Hlabisa, vra die ANC en die DA om uitstaande kwessies oor die vorming van die regering van nasionale eenheid op te los. Hy beklemtoon die noodsaaklikheid van die opsyskuif van persoonlike belange om die nuwe kabinet te finaliseer en om die land se dringende kwessies aan te spreek. Hlabisa sê die IVP bly verbind tot die regering van nasionale eenheid:
# Die Departement van Water en Sanitasie sê inwoners en sakeondernemings in sekere gebiede in Gauteng ondervind ernstige onderbrekings in watertoevoer weens Rand Water se beplande onderhoud. Die departement se woordvoerder, Wisane Mavasa, sê die huidige Rand Water-program het gelei tot die gedeeltelike vermindering van die water wat hulle aan Gautengse munisipaliteite kan verskaf:
# Die Stad Tshwane het streng maatreëls ingestel om finansiële bestuur te versterk en verkwistende uitgawes te bekamp. Die metro het 83-persent van sy aangepaste kapitaalbegroting van twee-miljard-rand, altesaam 1,6-miljard-rand, bestee, en totale uitgawes, insluitend verpligtinge, het tot 92,9-persent gestyg. Die woordvoerder, Selby Bokaba, sê hulle bly daartoe verbind om publieke fondse versigtig te bestuur en streef na optimale besteding voor die nuwe boekjaar:
# Die Oekraïnse president, Volodymyr Zelensky, het bekend gemaak hy werk aan ‘n omvattende plan om ‘n einde aan die oorlog met Rusland te maak. Hy het op ‘n nuuskonferensie in Kiëf beloof die plan is gebaseer op die diplomatieke roete want dit moet deur die meerderheid van die wêreld se nasies gesteun word. Waarnemers sê daar is op die oomlik geen onderhandelings tussen Oekraïne en Rusland nie en dit lyk asof die twee verder van mekaar is as ooit te vore oor die voorwaardes van ‘n moontlike vredesooreenkoms.
# En, fietsry: Verdedigende kampioen, Jonas Vingegaard, begin vandag sy veldtog vir ‘n derde agtereenvolgende titel in die Tour de France wanneer die wedren in versengende hitte in Florence begin. Ondersteuners stroom na die stad vir die begin van die 111de weergawe van die toer, ‘n wedren oor 21 dae en drie-duisend-498-kilometer, wat die Alpe twee keer oorkruis en op 21 Julie aan die Franse Riviera eindig. Die wedren word beskou as ‘n vierhoekige stryd tussen Vingegaard, voormalige kampioen en gunsteling, Tadej Pagacar, voormalige Vuelta en Giro-kampioen, Primoz Roglic, en nuweling, Remco Evenepoel.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….