Nuus 09:00
BULLETIN 25 Junie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Samesprekings oor die regering van nasionale eenheid is op koers ten spyte van die DA se eise
# Saftu sê die wanbestuur van finansiële hulp benadeel steeds studente
# En ‘n Amerikaanse gesin eis skadevergoeding nadat NASA se ruimterommel hul huis tref
# President Cyril Ramaphosa en DA-leier John Steenhuisen het Maandag ‘n “opbouende” gesprek gevoer nadat die opposisieparty se jongste eise oor kabinetsposte ANC-lojaliste op hol gejaag het. DA-bronne met kennis van Maandag se onderhandelings, beskryf die brief van die federale hoof, Helen Zille, as ʼn onderhandelingsinstrument. News24 sê sover hy weet gaan beraadslaging voort en die partye kan binnekort ʼn ooreenkoms bereik. Dit sal Ramaphosa in staat stel om teen Woensdag sy Kabinet aan te kondig. Die ANC sê in sy verklaring die aankondiging is op hande.
Die ANC sê intussen die tweede fase van die proses om ʼn regering van nasionale eenheid te vorm is aan die gang, naamlik om die Kabinet in ooreenstemming met die Grondwet saam te stel. Die ANC-woordvoerder, Mahlengi Bhengu-Motsiri, sê hulle voer gesprekke met leiers van partye wat by die RNE ingesluit is. Bhengu-Motsiri sê die 18 partye wat teen Saterdag by die RNE aangesluit het, verteenwoordig ʼn oorweldigende meerderheid van meer as 287 van die 400 setels in die Nasionale Vergadering:
# Saftu sê die voortdurende wanbestuur van die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente benadeel steeds studente. Die federasie beweer studente in verskeie instellings staar uitsettings en finansiële onbestendigheid in die gesig, weens vertraagde toelaebetalings, ondanks die aanstelling van ‘n nuwe raad. Xantilomzi Mapukata van Saftu dring aan op betroubare finansiële ondersteuning tydens eksamentydperke om die verdere ontwrigting van studente se lewens te voorkom:
# ʼn Florida-gesin wie se huis vroeër vanjaar deur ruimterommel getref is, eis skadevergoeding van Amerika se ruimteagentskap, NASA, vir skade aan eiendom en geestelike trauma. Die metaalvoorwerp van 700 gram het in Maart ʼn gat gemaak deur twee lae plafon in Alejandro Otero se huis in Napels. NASA sê die voorwerp was deel van sowat twee-duisend-630 kilogram materiaal wat die Internasionale Ruimtestasie gestort het nadat nuwe litiumbatterye geïnstalleer is. Otero sê sy seun is byna in die voorval beseer. Die agentskap moet binne ses maande op Otero se eise reageer.
#Tennis: Jelena Ostapenko het haar aanslag op haar tweede Eastborne-titel begin met ‘n oorwinning gister in skoon stelle oor Greet Minnen in die eerste ronde van die opwarmingstoernooi vir Wimbledon, terwyl die eerste gekeurde Elena Rybakina haar aan die toernooi onttrek het. Die voorste vier spelers op Eastbourne is almal outomaties deur na die tweede ronde, maar Rybakina – wat Wimbledon in 2022 gewen het – het haar Maandag aan die toernooi onttrek. Dit het daartoe gelei dat die 2020-kampioen van die Australiese Open, Sofia Kenin, na die tweede ronde deurgedring het as die gelukkige verloorder. Die 25-jarige Amerikaner kom volgende teen Harriet Dart van Amerika te staan.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-9-sent teen die dollar, 19-rand-43-sent teen die euro en 22-rand-97-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 61-duisend-306-dollar-61-sent. Die prys van goud is twee-duisend-326-dollar-64-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 85-dollar-17-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….