Nuus 09:00
BULLETIN 22 Junie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die korrupsie-verdagte Zizi Kodwa word as LP ingehuldig saam met MK-party-lede
# ‘n Hooggeregshof verwerp Mkhwebane se aansoek teen haar opvolger
# En, rugby: Steyn sê die Bulle herinner hom aan Superrugby se gloriedae
# Die voormalige minister van Sport, Kuns en Kultuur Zizi Kodwa word volgende week as lid van die Parlement ingehuldig. Lede van die MK-party, wat ook die eerste sitting misgeloop het, sal by hom aansluit. Kodwa word ‘n agterbanker ondanks sy bedanking weens korrupsie-aantygings. Daar was gissings nadat hy die eerste inhuldiging misgeloop het, maar hy het verlede week sy registrasie as LP bevestig. Kodwa het in die Landdroshof in Palm Ridge, Gauteng, verskyn op aanklagte van die ontvang van omkoopgeld van 1,6-miljoen-rand van ‘n staatsverskaffer. Hy is uit op borgtog van 30-duisend-rand.
# Die Hooggeregshof in Pretoria het die aansoek van die voormalige Openbare Beskermer, Busisiwe Mkhwebane, vir tronkstraf weens minagting vir haar opvolger, Kholeka Gcaleka, met koste van die hand gewys. Regter Nicoline Janse van Nieuwenhuizen het die aansoek as onreëlmatig bestempel en was erg krities oor Mkhwebane se lasterlike aantygings. Die regter het nie saamgestem met Mkhwebane se poging om vir tronkstraf aansoek te doen as deel van haar veldtog om ‘n gratifikasie van tien-miljoen-rand te bekom nie. Mkhwebane is tien dae gegun om ‘n gewysigde aansoek in te dien, indien sy wil voortgaan.
# Die Suid-Afrikaanse Nasionale Raad op VIGS is bekommerd oor die stadige pas om MIV-infeksies by kinders die stryd aan te sê. Suid-Afrika is naas elf ander lande ‘n ondertekenaar van die Globale Alliansie wat daarna mik om die pandemie onder kinders teen 2030 te beëindig. SANAC rapporteer ‘n geskatte 50-duisend nuwe MIV-infeksies jaarliks by kinders en adolessente. ‘n Woordvoerder van die raad, Nkhensani Nkhwashu, sê sonder die betrokkenheid van die gemeenskap, sal dit moeilik wees om HIV-infeksies te beëindig:
# Lesotho se minister van Indiensneming en Arbeid, Tšeliso Mokhosi, het ‘n multi-miljoen dollar projek van stapel gestuur om Beroepsveiligheid en Gesondheid in Lesotho se informele ekonomie te verbeter. Mokhosi sê dit voorkom die nie-nakoming van arbeidswette en skep ‘n veiliger werksomgewing. Die projek verseker bestendigheid in die arbeidsektor en verbeter bewustheid van arbeidsregte onder werknemers en werkgewers:
# En, rugby: Die voormalige Springbok- en Bulle-losskakel, Morné Steyn, sê die huidige Bulle-span herinner hom aan hul span se gloriedae vanaf 2007 tot 2010, toe hy deel was van ‘n driekuns Superrugby-titels. Steyn sê hy sal van niks meer hou as om te sien hoe die unie vandag ‘n Verenigde Rugbykampioenskap-trofee by sy lys voeg nie. Die Bulle pak die Glasgow Warriors op Loftus Versfeld in Pretoria voor ‘n volgepakte stadion. Steyn sê die ondersteuners gaan beslis ‘n groot rol speel. Afskoptyd is vanaand 6-uur.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….