Nuus 09:00
BULLETIN 19 Junie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Bantu Holomisa wil by die regering van nasionale eenheid aansluit, maar het bedenkinge
# AfriForum sê Media24 se plan om Afrikaanse koerante te sluit is ‘n groot terugslag
# En Maleisië en China onderteken ‘n vyf jaar handelsooreenkoms
# Die UDM-leier Bantu Holomisa sê hy wil graag by die regering van nasionale eenheid aansluit indien die ANC sekere kwessies kan uitklaar. Holomisa sê die UDM het voorbehoude oor die basiese minimum program van prioriteite asook die regering van nasionale eenheid se modus van optrede. Hy sê die UDM het die idee van ‘n regering van nasionale eenheid gesteun, maar glo alle rolspelers moet deel wees van die vorming daarvan en eienaarskap hê. Die DA, ANC, IFP, GOOD en die Patriotic Alliance het tot dusver die dokument onderteken.
# Media24 het aangekondig tot 400 werknemers kan hul werk verloor en nog 400 poste kan na ander maatskappye oorgedra word. Uitvoerende hoof, Ishmet Davidson, sê ʼn dekades lange afname in advertensies en sirkulasie het ʼn vernietigende uitwerking op gedrukte publikasies gehad. Die herstrukturering sluit in dat gedrukte uitgawes van Beeld, Rapport, City Press, Daily Sun en Soccer Laduma gestaak word. Die laaste gedrukte uitgawes sal na verwagting op 30 September verskyn. Media24 beplan om in die toekoms ten volle digitaal te wees en Rapport, City Press en Daily Sun sal slegs digitaal verskyn..
Intussen bestempel AfriForum dié stap as ’n reuseterugslag vir gehaltejoernalistiek in die land en veral vir Afrikaanse media. Volgens AfriForum se hoof van Kultuursake, Alana Bailey, versaak Media24 die Afrikaanse gemeenskap en die titels van publikasies wat deel van die fondament is waarop dié sakereus gebou is:
# Maleisië en China sal ‘n vyf-jaar-program vir ekonomiese en handelsamewerking onderteken tydens die Chinese premier, Li Qiang, se eerste besoek aan Kuala Lumpur. Die Maleisiese minister van Belegging, Handel en Nywerheid, Tengku Zafrul Aziz, het tydens die bekendstelling van Chery se voertuigaanleg in dié land aangekondig die ooreenkoms sal bande in vervaardiging, die digitale ekonomie, robotika, entrepreneursontwikkeling, innovering, nuwe ondernemings, en landbounavorsing en -ontwikkeling verdiep:
# Tennis: Carlos Alcaraz het Dinsdag by Queens-klub drie stelpunte afgeweer en Francisco Cerundolo met 6-1, 7-5 geklop in sy eerste poging om sy titel te verdedig. Die Spanjaard wat vroeër die maand sy derde Grand Slam by die Franse Ope gewen het, het sy eerste grasbaanwedstryd van 2024 effens onseker begin. Hy het egter later sy voete gevind en met Cerundolo afgereken. Die wêreld se nommer twee het verlede jaar se sege by Queen’s met ʼn Wimbledon-oorwinning opgevolg. Hy kom volgende teen die Brit Jack Draper of Argentyn Mariano Navone te staan.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-3-sent teen die dollar, 19-rand-36-sent teen die euro en 22-rand-92-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 65-duisend-519-dollar-50-sent. Die prys van goud is twee-duisend-327-dollar-66-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 85-dollar-31-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….