Nuus 09:00
BULLETIN 10 Junie 9 vm
In die bulletin:
# Die MK-party wil die eerste sitting van die Nasionale Vergadering keer
# AfriForum dien ‘n dringende aansoek in teen NERSA oor die elektrisiteitstariefverhogings
# En krieket: Indië loop voor in Groep A van die T20 Wêreldbeker
# Die MK Party sê hy gaan die Konstitusionele Hof nader om die byeenroeping van die eerste sitting van die Nasionale Vergadering te keer. Die party sê die sitting moet uitgestel word totdat sy griewe, wat berus op bewerings van verkiesingsbedrog en knoeiery met stemme, deeglik deur die howe ondersoek is. Die Parlement moet binnekort sy eerste sitting hou waar ‘n president, adjunk-president en die speaker van die Parlement verkies word. Die MK Party sê hy bly by sy standpunt dat ‘n nuwe verkiesing gehou moet word.
# Die burgerregte-organisasie, AfriForum, het ‘n dringende aansoek teen die Nasionale Energiereguleerder by die Hooggeregshof in Pretoria ingedien. Die aansoek wil NERSA verhinder om die aansoeke van munisipaliteite te oorweeg vir die verhoging van elektrisiteitstariewe vanaf 1 Julie, sonder die vereiste kostestudies. Volgens ‘n woordvoerder van AfriForum, Morné Mostert, gee kostestudies ‘n aanduiding wat tariewe behoort te wees om dienste te lewer en netwerke te onderhou:
# Die Hooggeregshof in Makhanda in die Oos-Kaap het die Emalahleni-munisipaliteit die groenlig gegee om die gewese munisipale bestuurder van die Knysna-munisipaliteit, Sitembele Wiseman Vatala, vir 7,5-miljoen-rand te dagvaar. Hy het nie ‘n siviele eis teen die munisipaliteit betyds geskik nie. Die dagvaarding spruit uit finansiële verliese weens Vatala se nalatigheid. Regter Nolubabalo Cengani-Mbakaza het in haar uitspraak gesê Vatala is as munisipale bestuurder wetlik belet om ongemagtigde, onregmatige, vrugtelose en verkwistende uitgawes aan te gaan.
# Die president van die Europese Kommissie, Ursula von der Leyen, wat vir ‘n tweede termyn wil dien, sê alle partye in Europa streef na ‘n sterk en doeltreffende vasteland. Haar European Peoples Party gaan waarskynlik die meeste stemme in die Europese Parlement verkry naamlik 189, gevolg deur die Sosialiste en Demokrate met 135, en Renew Europe met 83. Von der Leyen sê die verkiesing het getoon ‘n stabiele Europa is noodsaaklik:
# Krieket: Indië het Pakistan met ses lopies geklop om hulle tweede oorwinning by die T20-Wêreldbeker te behaal. Die Pakistanse naatboulers, Haris Rauf en Naseem Shah het elk drie paaltjies ingeoes en Indië is vir 119 uitgehaal. Jasprit Bumrah se drie paaltjies in vier boulbeurte in antwoord hierop was deurslaggewend met Pakistan wat op 113 vir sewe geëindig het. Indië is nou eerste in Groep A met Pakistan vierde en steeds sonder ‘n oorwinning. Bumrah sê hulle sege was ‘n spanpoging:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-87-sent teen die dollar, 20-rand-28-sent teen die euro en 23-rand-99-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 69-duisend-574-dollar-18-sent. Die prys van goud is twee-duisend-294-dollar-14-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 79-dollar-84-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….