Nuus 09:00
BULLETIN 31 Julie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# ActionSA sê die regering handhaaf ’n dawerende stilte oor die Amerikaanse handelstariefsperdatum
# Cosatu sê die Toedelingswetsontwerp bring begrotingsekerheid vir die regering
# En die VSA stel sanksies in teen die Brasiliaanse regter wat die Bolsonaro-verhoor aanhoor
# ActionSA sê die regering van nasionale eenheid het gefaal in sy pogings om die verslegtende verhouding met die VSA aan te spreek. Suid-Afrika en Amerika het nog steeds nie ‘n handelsooreenkoms bereik nie, terwyl president Donald Trump se 30-persent-tarief op die land se goedere môre in werking tree. ActionSA se president, Herman Mashaba, sê die gevolge van die instelling van die handelstariewe sal na beraming ekonomiese groei met ‘n verdere 0,3-persent verminder en gevolglik lewenskoste verhoog:
# Cosatu sê die Nasionale Raad van Provinsies se goedkeuring van die 2025/2026 Toedelingswetsontwerp bring begrotingsekerheid vir die regering. Die wetgewing beskryf hoe regeringsfondse tussen verskeie departemente toegeken sal word. Cosatu se woordvoerder, Matthew Parks, sê hulle verwelkom die bykomende befondsing om te help om openbare dienste aan die voorste linie te herbou wat deur jare van roekelose neo-liberale besuinigingsmaatreëls verlam is. Hy sê dit sluit in 29-miljard-rand vir onderwys, 28,9-miljard-rand vir gesondheid in, asook die vul van belangrike vakatures aan die voorste linie, insluitend 800 doktersposte:
# Die minister van Gesondheid, Aaron Motsoaledi, is bekommerd oor bevindinge in ‘n verslag deur die Gesondheids-ombud oor die Noord-Kaapse Geestesgesondheidshospitaal en die Robert Mangaliso Sobukwe-hospitaal, nadat twee pasiënte dood is. Die verslag noem ‘n gebrek aan krag, swak infrastruktuur en personeeltekorte. Motsoaledi het aangekondig die Nasionale Hersieningskomitee oor Geestesgesondheid sal weer besoek aflê by die hospitale. Hy het beklemtoon ‘n deeglike beoordelings is weer benodig om wat hy multi-stelsel-orgaanversaking noem, om te keer:
# Die Amerikaanse Departement van Finansies het sanksies ingestel teen ‘n regter van die Brasiliaanse Hooggeregshof, Alexandre de Moraes wat voorsit by die verhoor van Brasilië se voormalige regsgesinde president Jair Bolsonaro. Hy word aangekla van ‘n beweerde komplot vir die omverwerping van die regering ná hy die 2022 presidensiële verkiesing verloor het. Die Amerikaanse minister van Finansies, Scott Bessent, beskuldig Moraes dat hy verantwoordelik is vir ‘n veldtog van sensorskap, arbitrêre aanhoudings, menseregteskendings en politieke vervolgings, insluitend teen Bolsonaro. Hy sê diegene wat Amerikaanse belange en burgerlike vryhede bedreig, sal aanspreeklik gehou word.
# Tennis: Wimbledon-kampioen Iga Swiatek van Pole is deur na die derde ronde van die Kanadese Ope in Montreal nadat sy die Chinese kwalifiseerder, Guo Hanyu, verslaan het. Die viermalige Grand Slam-kampioen, Naomi Osaka van Japan, het die Rus, Liudmila Samsonova, naelskraaps geklop. Die Letlander, Jelena Ostapenko, het met Renata Zarazua van Mexiko afgereken. In die mansafdeling in Toronto het die vierde gekeurde Amerikaner, Ben Shelton, die Fransman, Adrian Mannarino, verslaan om die derde ronde te haal. Die Britse nommer twee, Cameron Norrie, het teen die Australiër, Aleksandar Vukic, verloor.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-96-sent teen die dollar, 20-rand-52-sent teen die euro en 23-rand-81-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 118-duisend-410-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-295-dollar-33-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 72-dollar-14-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….