Nuus 09:00
BULLETIN 3 Junie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die sekerheidsgroep is gereed om ‘n rustige omgewing te verseker ná die verkiesing
# Minister Modise sê die regering het lesse geleer uit die betogings van Julie 2021
# En die mediamagnaat Rupert Murdoch staan vir die vyfde keer voor die kansel
# Die Justisie-, Misdaadvoorkoming- en Sekuriteitsgroep het gewaarsku teen dreigemente van geweld na die verkiesing en sê hulle is gereed om te reageer sou enige geweld opvlam. Die president van die MK-party, Jacob Zuma, het Saterdag die Verkiesingskommissie gewaarsku om nie die verkiesingsuitslae bekend te maak nie en gesê dit sou neerkom op uitlokking van sy party. Die OVK het gisteraand egter die uitslae soos beplan verklaar. Die minister van Polisie, Bheki Cele, sê hulle is gereed om vrede en bestendigheid te handhaaf:
Intussen sê die minister van Verdediging en Militêre Veterane, Thandi Modise, hulle het hul les geleer tydens die Julie 2021-onluste. Die groepering vir Justisie, Misdaadvoorkoming en Sekerheid het die media gister toegespreek oor gereedheid vir moontlike geweld ná die verkiesing. Modise sê Suid-Afrikaners het die reg om opmerkings te maak en daar is hard baklei vir vryheid van spraak, maar hierdie vryheid het beperkings. Sy sê dis alle politieke partye se verantwoordelikheid om die verkiesing se uitslag te aanvaar:
# Die ANC sal nie sy vernuwing- en heropboupogings laat vaar nie. Die sekretaris-generaal van die party, Fikile Mbalula het tydens ‘n media-inligtingsessie by die Uitslagsentrum in Midrand, die afname in ANC-steun erken, en die behoefte aan doeltreffende regering beklemtoon. Mbalula het bevestig dat die ANC met politieke partye en belanghebbers gesprek voer om sterk nasionale en provinsiale regerings daar te stel:
# Gholf: Yuka Saso van Japan is vir die tweede keer die Amerikaanse Vroue Ope-kampioen nadat sy ‘n twee onder-syfer-68 gespeel het en met drie houe gewen het by die Lancaster Country Club in Pennsilvanië. Op 22 jaar en 347 dae is sy die jongste tweemalige kampioen in die geskiedenis van die Ope. Haar landgenoot, Hinako Shibuno, het tweede geëindig en Amerikaners Andrea Lee en Ally Ewing het saam derde geëindig. Saso se oorwinning maak dit vir haar moontlik om by die Olimpiese Spele vir Japan mee te ding.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-69-sent teen die dollar, 20-rand-30-sent teen die euro en 23-rand-83-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 68-duisend-382-dollar-69-sent. Die prys van goud is twee-duisend-321-dollar-49-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 81-dollar-1-sent per vat.
# En, laastens: Die 93-jarige mediamagnaat en miljardêr, Rupert Murdoch, is die vyfde keer getroud. Hy en die 67-jarige afgetrede Russiese bioloog, Elena Zhukova, het in Kalifornië afgehaak. Hulle het by ‘n partytjie ontmoet wat een van Murdoch se eksvroue, die Chinees-gebore entrepreneur Wendi Deng, gehou het. Murdoch se New York-gebaseerde maatskappy, News Corp, besit honderde plaaslike, nasionale en internasionale digitale nuusplatforms, insluitend die Wall Street Journal, Fox News en Sky News Australia. Hy het verlede jaar ná sewe dekades afgetree as voorsitter van Fox en News Corp.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….