Nuus 09:00
BULLETIN 23 Mei 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die MK- en ACT-partye verteenwoordig die harde werklikheid van persoonlikheidsgedrewe politiek
# Cosatu sê die nuwe aansoekstelsel vir mynregte is voordelig vir die bedryf
# En RISE Mzansi sê die ANC-jeugliga se optog in Soshanguve is besaai met teenstrydighede
# Die opkoms van oudpresident Jacob Zuma se MK-party, en die gewese ANC-sekretaris-generaal Ace Magashule se African Congress for Transformation, het ‘n nuwe era van ongekende opposisiepolitiek ingelui. Dit is volgens professor Sethulego Matebesi van die Vrystaatse Universiteit. MK gaan volgens voorspellings ondersteuning by die ANC en IFP afrokkel in KwaZulu-Natal, terwyl ACT in die Vrystaat kan veld wen. Matebesi sê gegewe Zuma en Magashule se ingewikkelde verhouding met die ANC, glo hierdie populistiese leiers hulle is ʼn werkbare alternatief vir die regerende party.
# Die vakbondfederasie Cosatu het die regering se aankondiging oor die instelling van ‘n nuwe mineraleregte-stelseloperateur verwelkom. Die mynbedryf beraam daar is ‘n agterstand van meer as drie-duisend prospekteer- en mynregte-aansoeke met ‘n beleggingswaarde van meer as 30-miljard-rand. Matthew Parks van Cosatu sê hy deel die siening van die bedryf dat die huidige aansoekstelsel klaaglik gebrekkig was en beleggings en groei gesmoor het:
# RISE Mzansi se jeug- en studente-afdelings het die ANC-jeugliga se optog teen misdaad in Soshanguve noord van Pretoria gister gekritiseer. Die liga eis geregtigheid vir die vyfjarige Ditebogo Junior Phalane wat twee weke gelede deur kapers doodgeskiet is. Hulle eis meer sigbare polisiëring in die gebied. RISE Mzansi se woordvoerder, Lawrence Manaka, sê die ANC-jeugliga is deel van die regering wat toegelaat het dat misdaad buite beheer raak en dat gesinne en gemeenskappe onveilig is:
# ‘n Werker by ‘n Britse dagsorgskool is ‘n vonnis van 14 jaar opgelê na die dood van ‘n nege maande oue baba. Kate Roughley is skuldig bevind aan manslag nadat sy in Mei 2022 Genevieve Meehan op haar magie op ‘n bonesak vasgegespe het en haar 90 minute lank daar gelos het. Die baba het versmoor. Die regter sê dit is duidelik Roughley het die dogtetjie as ‘n oorlas beskou, en haar optrede was sonder sorg, goedhartigheid of kommer oor haar welstand. Die voorval is op kringtelevisie vasgelê en in die hof gewys.
# Sokker: Ademola Lookman het ‘n driekuns vir Atalanta behaal met sy span wat Bayer Leverkusen met 3-0 geklop het om die Europa-Liga in Dublin te wen, en ‘n trofee-droogte van 61 jaar te beëindig. Dit is Leverkusen se eerste nederlaag sedert hulle laaste wedstryd van die 2022-2023 seisoen. Atalanta is nou verseker van hulle plek in die volgende seisoen van die Kampioene-Liga. Lookman, wat die eerste speler ooit geword het om ‘n driekuns in ‘n Europa-Liga-eindstryd te behaal, sê dit is baie spesiaal om geskiedenis saam met die klub te maak:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-29-sent teen die dollar, 19-rand-82-sent teen die euro en 23-rand-29-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 69-duisend-510-dollar-20-sent. Die prys van goud is twee-duisend-372-dollar-65-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 81-dollar-40-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….