Nuus 09:00
BULLETIN 21 Mei 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Cosatu en die ACDP verwelkom die Konstitusionele Hof se beslissing oor Zuma
# Iran se staatsmedia bevestig die datum van die presidensiële verkiesing
# En gholf: Scottie Scheffler se hofdatum word uitgestel ná sy arrestasie tydens die PGA-kampioenskap
# Die ACDP sê die Konstitusionele Hof se duidelike uitspraak oor oudpresident Jacob Zuma se verkiesbaarheid tot parlementslid in volgende week se verkiesing, was noodsaaklik. Die hof het beslis gegewe sy skuldigbevinding en vonnis vir minagting van die hof in 2021, mag hy eers vyf jaar ná die voltooiing van sy vonnis tot die Nasionale Vergadering verkies word. Steve Swart van die ACDP sê die hoogste hof het bevind die doel van Zuma se diskwalifisering is om die integriteit van Suid-Afrika se demokratiese regering te beskerm:
Cosatu het op sy beurt ook die Konstitusionele Hof se beslissing verwelkom. Matthew Parks van Cosatu sê die uitspraak is nóg ‘n welkome bewys dat Suid-Afrika op die regte pad is ná staatskaping en korrupsie toe politici ongestraf kon optree:
# Die Stad Kaapstad se direktoraat Water en Sanitasie sê onlangse misdadige optrede beklemtoon die gevare wat die personeel in hoërisiko-gebiede ondervind. Spanne het sedert Julie 22 kapings en 52 rooftogte in Khayelitsha, Philippi en Mfuleni ondervind. Die burgemeesterskomiteelid vir Water en Sanitasie, Zahid Badroodien, sê in die 2023/2024-boekjaar het die stad 8,5-miljoen-rand aan begeleiding deur private sekuriteit bestee om spanne te beskerm:
# Iran se staatsmedia, IRNA, sê ‘n presidensiële verkiesing sal op 28 Junie gehou word ná die dood van die land se president, Ebrahim Raisi. Hy is in ʼn bergagtige gebied in die noordweste van Iran in ʼn helikopterongeluk dood. Die minister van Buitelandse Sake, Hossein Amir-Abdollahian, en sewe ander het ook omgekom. Iran se hoofleier, ayatollah Ali Khamenei, het vyf dae van rou afgekondig. Kenners glo die verkiesing sal waarskynlik oorhaastig gereël word met min kiesers wat deelneem.
# Gholf: Die wêreld se voorste speler, Scottie Scheffler, se hofverskyning is tot 3 Junie uitgestel. Die Amerikaner is verlede Vrydag kort voor sy tweede ronde in die PGA-kampioenskap in hegtenis geneem nadat hy deur swaar verkeer wat deur ‘n botsing veroorsaak is, by die Valhalla-gholfklub wou inry. Scheffler word onder meer aangekla van aanranding, roekelose bestuur en die verontagsaming van ‘n verkeersbeampte. Hy ontken alle klagtes teen hom.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-20-sent teen die dollar, 19-rand-76-sent teen die euro en 23-rand-13-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 71-duisend-en-92-dollar-11-sent. Die prys van goud is twee-duisend-414-dollar-25-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 83-dollar-21-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….