Nuus 09:00
BULLETIN 10 Augustus 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa vra mans en seuns om deel te wees van die oplossing vir geslagsgeweld
# Julius Malema staar ‘n crimen injuria-aanklag in die gesig oor sy Cwe Cwe-verkragtingsbewerings
# En, Benjamin Netanyahu verwerp Donald Trump se 15-punt Gaza-vredesplan
# President Cyril Ramaphosa sê baie moet nog gedoen word om veral geslagsgeweld en vrouemoord aan te spreek, wat die regering as ‘n nasionale ramp verklaar het. Die Verenigde Nasies se Vroueorganisasie reken die koers waarteen Suid-Afrikaanse vroue vermoor word is vyf keer die wêreldgemiddeld. Die president het gister die viering van die 70ste herdenking van die 1956-Vroueoptog in Pretoria gelei. Ramaphosa het ‘n beroep op mans en seuns gedoen om na vore te tree en deel van die oplossing te wees. Hy sê geslagsgeweld is nie ‘n vroueprobleem nie:
# Die Gautengse Departement van Gesondheid sê servikale kanker-ondersoeke het met 29-persent gedurende die 2025/26-boekjaar toegeneem. Meer as 198-duisend vroue is ondersoek, teenoor 153-duisend die vorige jaar. Die Gautengse LUR vir Gesondheid, Faith Mazibuko, sê ondersoeke bemagtig vroue om beheer oor hul gesondheid te neem. Die departement se woordvoerder, Steve Mabona, sê menslike papillomavirus-inentings en bewustheidsprogramme duur voort en spoor vroue wat die vereistes voldoen aan om gereeld vir ondersoeke te gaan en vroegtydig mediese hulp te soek:
# Die EFF-leier Julius Malema sal na verwagting ‘n aanklag van crimen injuria in die Johannesburgse landdroshof in die gesig staar nadat hy die voormalige skoolhoof van Bergview College, Jaco Pieterse, valslik van verkragting beskuldig het in die Cwe Cwe-saak. Daar is beweer ‘n sewejarige meisie, wat die skuilnaam Cwe Cwe gebruik het, is in Oktober 2024 op die skoolterrein in Matatiele seksueel aangerand terwyl sy vir vervoer gewag het. Barry Bateman van AfriForum sê hulle ondersoek ook aanklagte teen die ANC-sekretaris-generaal Fikile Mbalula en die Oos-Kaapse LUR vir Onderwys, Fundile Gade. Pieterse eis verantwoordbaarheid.
# Die African Peoples Convention vra vir die herlewing van industrialisering en volhoubare werkskepping in Moretele, Noordwes. Die provinsiale voorsitter, Dikobe Lucas Mphak, sê in ‘n plaaslike verkiesingsveldtog-verklaring die gebied kan leer uit die nywerheidsontwikkeling in Babelegi onder die Bophuthatswana-regering. Die APC stel ‘n agro-industriële- en vervaardigingspark vir Moretele voor, wat fokus op landbouverwerking en ligte vervaardiging, tesame met ‘n nywerheidsvaardigheidsakademie. Hy sê landbou, nywerheid en klein, medium en mikro-ondernemings moet saamwerk om ‘n volhoubare plaaslike ekonomie te bou.
# Die Israelse eerste minister, Benjamin Netanyahu, het ‘n 15-punt Gaza-vredesplan verwerp wat deur die Amerikaanse president Donald Trump se Vredesraad voorgestel is. Die plan sluit die volledige ontwapening van Hamas en alle ander gewapende groepe in Gaza in. Trump het dit verlede week ‘n monumentale stap in die rigting van blywende vrede en veiligheid genoem. Netanyahu sê die Israelse weermag sal nie onttrek voordat Hamas werklik ontwapen is nie, en sal voortgaan om dreigemente teen hul magte en burgers te stuit. Hy sê sy regering sal hul besware met die VSA bespreek.
# En rugby: Luke Jacobson sal die All Blacks Woensdag vir die eerste keer aanvoer in hul kragmeting teen die Haaie in Durban. Sewe spelers van die Nieu-Seelandse span wat die Stormers met 38-21 geklop het, is weer deel van die 23-tal vir hierdie tweede wedstryd van die toer. Bradley Slater, wat ‘n paar dae gelede by die groep aangesluit het as ‘n plaasvervanger vir die beseerde George Bell, sal na verwagting sy All Black-debuut van die bank af maak saam met losvoorspeler Semisi Ta’eiloa. Die wedstryd begin om 7-uur die aand.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….