Nuus 09:00
BULLETIN 29 Julie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Bevrydingsoorlog-veterane beskuldig die Nasionale Veteranevereniging van verdeeldheid
# Suid-Afrika verkry ‘n lening van 10,4-miljard-rand om billike energie-oorgang te ondersteun
# En ‘n gewapende man skiet vier mense in Manhattan dood, insluitend ‘n polisiebeampte
# Die ANC-gebonde Umkhonto we Sizwe Bevrydingsoorlog-veterane het die Suid-Afrikaanse Nasionale Militêre Veterane-vereniging van politieke sabotasie beskuldig. Die veterane sê die vereniging weier om hom as die amptelike plaasvervanger van die ontbinde Umkhonto we Sizwe-militêre-veterane-vereniging te erken. Die Nasionale Kommissaris, Bobo Pemba, het op ‘n nuuskonferensie gewaarsku daar sal oor twee maande geen veteranekonferensie sonder hul betrokkenheid plaasvind nie:
# Suid-Afrika het ‘n lening van net meer as 10,4-miljard-rand van Duitsland se KfW Ontwikkelingsbank ontvang om die land se oorgang na ʼn laekoolstof-ekonomie te ondersteun. Die ooreenkoms bou voort op twee ander lenings in 2022 en 2023 en is deel van Duitsland se verbintenis by die COP26-klimaatsveranderingberaad om te help om Suid-Afrika se afhanklikheid van fossielbrandstof te verminder. Die minister van Finansies, Enoch Godongwana, sê die lening sal die land se kort- en langtermyn-energiesekerheidmaatreëls versterk en steenkoolgebruik verminder.
# Die Forum for South Africa kritiseer die minister van Openbare Werke, Dean Macpherson, nadat hy alle fondse vir die Uitgebreide Openbarewerkeprogram aan die Vrystaatse Matjhabeng-munisipaliteit opgeskort het. Dit volg na berigte dat die munisipaliteit die program se betaalstaat gebruik om verhoogde salarisse te betaal. Die forum se leier, Tebogo Mashilompane, sê die minister moes slegs die wat betrek word straf en nie almal oor dieselfde kam skeer nie:
# Vier mense is in ‘n wolkekrabber in Manhatten doodgeskiet, insluitend ‘n New Yorkse polisieman. Een persoon is gewond. Volgens die owerhede het ‘n aanvaller met ‘n koeëlvaste baadjie die gebou in 345 Park Avenue binnegegaan en op vier mense losgebrand wat in die sekuriteitsafdeling by die gebou werk. Die kommissaris van die New Yorkse polisie, Jessica Tisch, sê die aanvaller het homself daarna geskiet:
# Krieket: Dis wel moontlik dat Indië die wêreld se beste toetsbouler, Jasprit Bumrah, sal inspan om die laaste toets teen Engeland te probeer wen en die reeks te deel. Daar is vroeër besluit dat hy weens ‘n rugbesering net drie wedstryde sal speel. Engeland loop egter 2-1 voor en hoofafrigter Gautam Gambhir sê hulle moet nog besluit of Bumrah sal speel. Kaptein Shubman Gill sê Bumrah lyk fiks en dit sal wonderlik wees as hy kan speel in die wedstryd wat Donderdag op die Oval in Londen begin.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-90 sent teen die dollar, 20-rand-73-sent teen die euro en 23-rand-88 sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 118-duisend-618 dollar. Die prys van goud is drie-duisend-310-dollar-25-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 69-dollar-19-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….