Nuus 09:00
BULLETIN 18 Mei 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa moedig kiesers aan om hulle demokratiese reg uit te oefen
# Die VF Plus beweer die versuim om misdaadstatistieke bekend te maak is ‘n verkiesingsfoefie
# En, sokker: Fifa beloof regsassessering ná die Palestyne se versoek om Israel te skors
# President Cyril Ramaphosa doen ‘n oproep op stemgeregtigde kiesers om op 29 Mei hulle demokratiese reg uit te oefen. Ramaphosa beklemtoon die belangrikheid van die proses, wat 30 jaar van demokrasie vier. Die president lig die reg om te stem uit as ‘n hoeksteen van Suid-Afrika se demokratiese bestel, vasgelê in die Handves van Regte. Hy sê, om te stem toon geloof in die demokrasie en beïnvloed die toekomstige rigting van die land:
Die Vryheidsfront Plus het intussen die minister van Polisie, Bheki Cele, gekritiseer omdat hy nie die jongste kwartaallikse misdaadstatistieke bekend gemaak het nie, en noem dit ‘n verleentheid voor die verkiesing. Volgens die party swyg hy oor die stygende vlakke van geweldsmisdade, wat in die vorige syfers in Februarie uitgelig is, om die ANC se beeld te beskerm. Die VF Plus-leier, Pieter Groenewald, voer aan, die weerhouding van dié inligting stel politieke belange bó openbare veiligheid, veral gegewe die toename in geweld teen vroue en kinders.
# Eskom skryf 51 agtereenvolgende dae sonder beurtkrag toe aan voortgesette verbetering met die betroubaarheid van die opwekkingsvloot. Die kragverskaffer gee die Opwekkings-operasionale Plan krediet. Dit sluit in, versnelde beplande onderhoud, aanlyn voorkomende onderhoud, groot aanleg-opknappings en lewensduur-verlengende projekte. Dit het onbeplande onderhoud verminder en betroubaarheid verhoog. Eskom sê die beplande onderhoud stem ooreen met die winterskedules, met opwekkingsvermoë wat vanjaar se wintervoorspelling oorskry.
# Russiese geleide missiele het gister minstens drie mense gedood en 28 beseer in die noordoostelike Oekraïense stad Kharkiv. Reuters berig, Oekraïne se tweede grootste stad en die omliggende gebied is lank reeds die teiken van Russiese aanvalle. Dit het die afgelope paar maande meer intens geword en burgerlikes en energie-infrastruktuur getref. Die president van Oekraïne Volodymyr Zelensky beskuldig Rusland van ‘n doel om die stad in puin te lê. Moskou ontken dat burgerlikes spesifiek geteiken word maar duisende is dood en beseer in sy 27-maande lange inval in Oekraïne.
# En, laastens, sokker: Die wêreldbeheerliggaam, Fifa, is van plan om ‘n regsassessering te laat doen na Palestina se versoek vir die skorsing van die Israelse federasie weens die oorlog in Gaza. Die Palestynse federasie het die oproep gedoen tydens gister se kongres in Bangkok, Thailand, met steun deur Jordanië. Fifa se president, Gianni Infantino, sê die raad sal ‘n besluit neem na die assessering, wat hy beloof dringend gedoen sal word. Die raad beplan ‘n buitengewone kongres in Julie om die kwessie te oorweeg.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….