Nuus 09:00
BULLETIN 9 Augustus 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die adjunkminister van Justisie vra vir optrede teen geslagsgeweld
# Span Suid-Afrika het reeds agt medaljes by die o.20 Wêreld-atletiekkampioenskappe gewen
# En Rugby: die Springbok-vroue klop Fidji in hul eerste toets
# Die adjunkminister van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling, Andries Nel, sê die beëindiging van geslagsgeweld vereis dat die beleid in praktiese stappe omgesit word en tot verantwoordbaarheid lei. Nel het tydens die Suid-Afrikaanse afdeling van die Internasionale Vereniging van Vroue-Regters se jaarlikse algemene konferensie in Bloemfontein die belangrikheid van beleid vir beskerming beklemtoon wat verantwoordbaarheid, geregtigheid en sistemiese hervorming bevorder om geslagsgeweld te beëindig. Nel het strenger slagoffer-geregtigheidsmaatreëls en gekoördineerde optrede beklemtoon, insluitend howe vir seksuele oortredings en Thuthuzela-sorgsentrums, om te verseker dat oorlewendes geregtigheid met waardigheid en beskerming ervaar.
# Die regering het die moord op twee lede van die Teen-bende-eenheid in Reiger Park veroordeel. Hulle is na bewering in ‘n lokval gelei en doodgeskiet. Die adjunk-regeringswoordvoerder William Baloyi sê wetstoepassingsagentskappe het hulpbronne ontplooi om die skuldiges op te spoor. Hy sê optredes soos Operasie Shanela is gemik op misdaadbrandpunte, gesoekte verdagtes en misdaadnetwerke, terwyl die regering daaraan werk om gemeenskapsveiligheid te versterk en die oppergesag van die reg te handhaaf:
Die polisie- en gevangenisdiensvakbond, POPCRU, het intussen ‘n beroep gedoen op gekoördineerde en meetbare nasionale programme om aanvalle op wetstoepassingsbeamptes te voorkom en intelligensie-gedrewe polisiëring te verbeter. Dit volg op die moorde in Reiger Park. Die vakbond sê die maatreëls is om te verseker dat aanvalle op polisiepersoneel onmiddellik met gespesialiseerde aandag ondersoek word. POPCRU het die polisie versoek om alle beskikbare hulpbronne te mobiliseer om die skuldiges voor die gereg te bring. Hy het ook ‘n beroep op inwoners gedoen om ondersoekbeamptes te help en georganiseerde misdaad te bekamp.
# Die DA-leier Geordin Hill-Lewis het gebrekkige munisipaliteite gekritiseer en gesê Suid-Afrikaners verdien plaaslike regerings wat basiese dienste lewer. Met die bekendstelling van die party se manifes in Johannesburg het Hill-Lewis drie sleutelbeloftes gemaak, insluitend die aanstelling van gekwalifiseerde en eerlike mense in munisipale poste, die beskerming van water- en elektrisiteitsinkomste en die versekering dat daar gevolge sal wees vir korrupsie en verkwistende besteding. Hy het belowe om dorpe en stede wat werk te herstel voor die plaaslikeregeringsverkiesing op 4 November:
# Sportnuus:
# Atletiek: Span Suid-Afrika het tot die sesde plek gevorder by die 2026 o.20 Wêreldatletiekkampioenskappe in Eugene, Oregon, en altesaam agt medaljes verower. Daar was gister twee goues toe Jan-Hendrik Heymans die spiesgooi-eindronde oorheers het met ‘n wêreldklas afstand van 80,50-meter. Michael-André Edwards het ook goud in die driesprong behaal met ‘n afstand van 17,08-meter. Marko Ferreira het brons in die 100-meter naelloop verwerf en Jaco van Dyk ook brons met 19,8-meter in die gewigstoot. Dit bring die totale medaljes te staan op twee goud-, twee silwer- en vier brons.
# En rugby: Die Springbok-vrouespan het gister ‘n geskiedkundige oorwinning van 55-12 oor die Fijiana XV in die Suva-stadion behaal. Suid-Afrika het van die begin af oorheers en perfek by die nat toestande aangepas om ‘n voorsprong van 27-7 met rustyd te behaal. Die sterk voorspelers het die grondslag gevorm vir ‘n aanslag van nege drieë, met ‘n tweekuns vir Xoliswa Khuzwayo. Die plaasvervanger-kaptein, Libbie Janse van Rensburg, het die span knap gelei en haar nasionale punterekord verbeter. Die twee spanne kom Saterdag in Lautoka weer teen mekaar te staan in die tweede en laaste toets.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….