Nuus 09:00
BULLETIN 28 Julie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# ActionSA stel die afskaffing van adjunkministers voor
# Nagemaakte goedere ter waarde van meer as 156-miljoen-rand is gekonfiskeer
# En, Thailand en Kambodja gaan vandag vredesgesprekke voer
# ActionSA sê sy Twee-en-twintigste Wysigingswetsontwerp op die Grondwet wat pas in die Staatskoerant gepubliseer is, kan, as dit aanvaar word, die omvattendste hersiening van die oordadige nasionale uitvoerende gesag wees sedert die begin van demokrasie in 1994. Die uitvoerende gesag bestaan uit 32 ministers en 43 adjunkministers. ActionSA-woordvoerder, Matthew George, sê van die voorstelle in die wetsontwerp is dat adjunkministers afgeskaf word, dat die Nasionale Vergadering individuele ministers deur mosies van wantroue mag verwyder en om die president se eensydige mag te beëindig:
# Die polisie het op nagemaakte goedere ter waarde van meer as 156-miljoen-rand in landwye klopjagte beslag gelê. Polisiewoordvoerder Amanda Van Wyk sê die afgelope drie weke het operasies in Mbombela, Mokopane en Pretoria meer as 23-duisend nagemaakte items van top-handelsmerke opgelewer, insluitend Springbok-klere. Sy sê die optrede, deur die polisie en die Inkomstediens, is gemik op die beskerming van handelsmerke, verbruikers en die ekonomie:
# Gauteng se Departement van Gesondheid het die uitspraak in die Appèlhof verwelkom in die saak rakende die maatskappy Buhle Waste, en die toekenning van die departement se tender vir mediese afval. Die hof het die uitspraak van die Gautengse Hooggeregshof in November 2023 tersyde gestel, waarin die tender ongeldig verklaar is weens die sogenaamde onbehoorlike verlenging van die tender se vervaldatum. Die departement se woordvoerder, Motalatale Modiba, sê hul appèl is met koste gehandhaaf:
# Kambodja en Thailand se leiers gaan vandag in Maleisië vergader vir vredesgesprekke ná dae van noodlottige gevegte oor ‘n gebied bekend as die Smaragdriehoek, waar die grense van dié twee lande en Laos bymekaarkom. Minstens 35 mense is dood, meer as 200 is beseer en meer as 200-duisend is ontheem sedert Donderdag toe die die gevegte uitgebreek het. Amerika se minister van buitelandse sake, Marco Rubio, sê amptenare van die departement sal op die grond met die onderhandelings te help. Hy sê hy hoop die gesprekke kan ‘n onmiddellike skietstilstand meebring.
# Sokker: Engeland het hulle Europese Vrouekampioenskapstitel behou nadat hulle Spanje in Switserland verslaan het. Mariona Caldentey het Spanje in die eerste helfte ‘n voorsprong gegee en Alessia Russo het die wedstryd vir die Lionesses in die 57ste minuut gelykop gemaak. Die wedstryd het ná ekstra tyd gelykop geëindig. Doelwagter Hannah Hampton het ʼn groot bydrae gelewer toe Engeland die strafskop-uitspeelpoging met 3-1 gewen het. Engeland se bestuurder, Sarina Wiegman, het haar span se samewerking en vasberadenheid geloof:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-72 sent teen die dollar, 20-rand-84-sent teen die euro en 23-rand-82 sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 119-duisend-210 dollar. Die prys van goud is drie-duisend-342-dollar-48-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 67-dollar-88-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….