Nuus 09:00
BULLETIN 7 Mei 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Business Leadership SA sê die land het dringend ‘n plan nodig om ‘n gas-afgrond te vermy
# Die dodetal ná die ineenstorting van die gebou in George styg tot vier
# En rugby: Grobbelaar bly vir nog drie jaar by die Bulle
# Business Leadership South Africa sê die Gas-meesterplan wat in die Staatskoerant verskyn het, het goeie beginsels en doelwitte, maar spreek nie die probleem aan wat die ekonomie in die gesig staar nie. Die twee gasvelde in Mosambiek wat deur Sasol bedryf word, is tans die hoofbron. Dit sal egter teen die middel van 2026 nie meer aan Suid-Afrikaanse kliënte voorsien nie omdat Sasol dan alles self gaan gebruik. Die organisasie se uitvoerende hoof, Busisiwe Mavuso, sê die gas-afgrond is net 24 maande ver en daar is skaars tyd om projekte te ontwikkel om dit te vermy.
# Die dodetal na die ineenstorting van ‘n vyfverdieping-gebou wat in George in die Wes-Kaap in aanbou was, het tot vier gestyg. Vyf-en-sewentig konstruksiewerkers was gistermiddag op die perseel toe dit ineengestort het. Die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, sê 24 pasiënte is uit die puin in Victoriastraat 75 gehaal, terwyl 51 mense nog vermis word:
# Die vakbondfederasie Saftu sê die aanbevelings in die Khampepe-ondersoekkommissie se verslag moet vinnig toegepas word. Die kommissie het die brand in die Usindiso-gebou ondersoek waarin 77 hoofsaaklik buitelandse burgers in Augustus verlede jaar dood is. Die Stad Johannesburg en sy entiteite se aanspreeklikheid vir die sterftes is onder andere ondersoek. Saftu se woordvoerder, Trevor Shaku, sê mense moet aanspreeklik gehou word vir die tragedie:
# Die regter in Donald Trump se swyggeld-saak het die oudpresident van Amerika met tronkstraf gedreig as hy weer die swyg-opdrag in die saak oortree. Hy het dit die tiende keer oortree deur onder andere moontlike getuies en die jurie in die openbaar te bespreek. Regter Juan Merchan sê dit sal ontwrigtend wees om Trump in die tronk te stop, maar ‘n oortreding van die swyg-opdrag is ʼn direkte aanval op die oppergesag van die reg. Trump het onskuldig gepleit op 34 aanklagte dat hy sakerekords vervals het om ʼn betaling aan die porno-ster, Stormy Daniels, te verberg.
# Rugby: Die Bulle het die voorspeler Johan Grobbelaar se kontrak vir nog drie jaar verleng tot Junie 2027. Die gewese junior Springbok het reeds 123 keer vir die Bulle uitgedraf sedert hy in 2016 sy debuut vir die onder-19’s gemaak het. Hy het ‘n deurslaggewende rol in die Bulle se sukses gespeel, insluitend hul verowering van die Curriebeker in 2020 en 2021. Grobbelaar sê hy is gelukkig om by die klub te bly:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-50-sent teen die dollar, 19-rand-93-sent teen die euro en 23-rand-23-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-413-dollar-53-sent. Die prys van goud is twee-duisend-322-dollar-96-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 83-dollar-45-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….