Nuus 09:00
BULLETIN 6 Mei 9 vm
Goeiemôre Ek is……..
In die bulletin:
# Die Ahmed Kathrada-stigting word as vriend van die hof toegelaat in die OVK se appèlsaak
# Numsa verwelkom die ondertekening van ’n loonooreenkoms in die passasiersbussektor
# En die liggame van vermiste branderplank-toeriste word met skietwonde gevind in Mexiko
# Die Ahmed Kathrada-stigting is as vriend van die hof toegelaat in die Verkiesingskommissie se appèlsaak voor die Konstitusionele Hof. Die OVK appelleer teen die uitspraak van die Verkiesingshof wat oudpresident Jacob Zuma die groen lig gegee het om in die komende algemene verkiesing te staan. Die kommissie het Zuma gediskwalifiseer weens die tronkstraf van 15 maande wat hy in 2021 vir minagting van die Hof opgelê is. Die stigting sê die oudpresident is ‘n grondwetlike misdadiger en is nie geskik vir die Parlement nie. Die saak sal Vrydag aangehoor word.
# Die Metaalwerkersvakbond, Numsa, het die tweejaar-loonooreenkoms verwelkom wat in die passasiersbus-sektor bereik is. Die ooreenkoms sluit verhogings in op basiese salarisse van vyf-persent vir vanjaar en 6,5-persent volgende jaar. Numsa se woordvoerder, Phakamile Hlubi-Majola, sê die ooreenkoms wat by die Suid-Afrikaanse Padpassasier-bedingingsraad onderteken is, sluit ook in dat werkgewers op ‘n 50/50-verdeling sal bydra tot primêre gesondheidsorgdekking vir werkers:
# Die gewese uitvoerende hoof van die Tembisa-hospitaal, wyle Ashley Mthunzi, is volgens berigte 2,5-miljoen-rand betaal terwyl hy geskors was. Hy is verlede maand dood voordat ‘n tugproses wat byna twee jaar geduur het, afgehandel is. Mthunzi is geskors na bewerings dat hy toestemming gegee het vir aankoopversoeke in onregmatige tenders wat deur die fluitjieblaser Babita Deokaran blootgelê is. Mthunzi se boedel gaan miljoene aan pensioenbetalings van die staatsdiens se pensioenfonds ontvang omdat hy tydens sy dienstydperk dood is.
# Mexikaanse owerhede het die liggame geïdentifiseer van drie toeriste wat in ‘n put gevind is met skietwonde aan die kop. Die Australiese broers Jake en Callum Robinson en hul Amerikaanse vriend Jack Carter Rhoad was op ‘n branderplankkamp toe hulle verlede maand in die Stille Oseaan-kusstaat Baja California, in Mexiko, vermis geraak het. Amptenare meen die mans is die slagoffers van ‘n roof toe hulle vragmotor gesteel is. Drie verdagtes is in hegtenis geneem. Die Amerikaanse FBI sê hy kyk ook na die saak.
# Tennis: Andrey Rublev het ongesteldheid en besering oorkom op pad na die Madrid Ope-titel. Die Rus het Felix Auger-Aliassime van Kanada 4-6, 7-5, 7-5 verslaan om sy tweede Meesters 1 000-titel te verower. Die ses-en-twintigjarige Rublev, wat ná vier wedstryd-nederlae in die Spaanse hoofstad aangekom het, sê hy gee volle krediet en erkenning aan die dokters wat dit vir hom moontlik gemaak het om te speel:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-52-sent teen die dollar, 19-rand-94-sent teen die euro en 23-rand-24-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-181-dollar-24-sent. Die prys van goud is twee-duisend-308-dollar-59-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 83-dollar-20-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….