Nuus 09:00
BULLETIN 4 Mei 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA verwerp verdere reddingsboeie vir die SA Poskantoor
# Boris Johnson word weggewys by ‘n stemlokaal omdat hy nie sy ID by hom gehad het nie
# En, die Internasionale Olimpiese Komitee kondig die grootste vlugtelingspan nog aan, vir die 2024 Olimpiese Spele
# Die DA het verdere reddingsboeie vir die Suid-Afrikaanse Poskantoor verwerp. Hulle kritiseer die ANC vir wanbestuur en werkverliese. Die Sakereddingspraktisyns het ‘n verligtingskema vir werknemers aangekondig, wat deur die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie geweier is en tot werkverliese gelei het. Die DA-lid, Natasha Mazzone, het die ANC beskuldig dat hy meer as tien-miljard-rand aan belastingbetalersfondse op SAPO germors het en versuim het om ‘n werkbare omkeerplan te verskaf. Mazzone sê ‘n sterk vennootskap tussen die Poskantoor en die privaat sektor is uiters belangrik vir noodsaaklike dienste:
# ‘n Onafhanklike verslag het geen bewyse gevind in Outa se bewerings teen die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente nie. Volgens die verslag was daar kommer oor ‘n gesprek wat opgeneem is tussen die voormalige skema se raadsvoorsitter en individue wat met Coinvest Africa verbind word. Hy het maatreëls aanbeveel om potensiële regseise te verminder, insluitend om Khosa te berispe vir ongemagtigde besprekings. Die woordvoerder, Ishmael Mnisi, sê die verslag beveel ook aan om die toepassing van die Werksmans-verslag te bespoedig en besluite oor kontrakbeëindiging te neem, sonder om studente-begunstigdes te benadeel:
# Die Stad Johannesburg het, wat hy noem, die misbruik van die regstelsel veroordeel in ‘n dispuut oor die arrestasiebevel wat uitgereik is teen sy stadsbestuurder, Floyd Brink. Die Hooggeregshof in Johannesburg het ‘n uitstel van eksekusie toegestaan vir die lasbrief, wat spruit uit ‘n tariewe-geskil met Pibir Investments. Verlede week is ‘n lasbrief teen Brink uitgevoer weens die stad se versuim om te voldoen aan ‘n hofbevel oor die afsluiting van elektrisiteit aan die besigheid. Die stad beskuldig opponerende partye daarvan dat hulle skelm en polities-gemotiveerde taktieke gebruik.
# Die voormalige Britse eerste minister, Boris Johnson, was stomgeslaan deur wetgewing wat hy self ingestel het toe hy hierdie week in die tussenverkiesing probeer stem het. Hy het glo sonder sy ID by die stemlokaal opgedaag. Johnson het die omstrede Kieswet, wat foto-identifikasie vereis, in 2022 ingestel, net voor hy uit die kussings gelig is. Hy het probeer om in Suid-Oxfordshire te stem, maar is weggewys. Die Arbeidersparty het groot winste tydens die tussenverkiesings gemaak, wat gelei het tot ‘n beroep op die Konserwatiewe eerste minister, Rishi Sunak, om ‘n algemene verkiesing te hou.
# En, die Internasionale Olimpiese Komitee het die grootste vlugtelingspan ooit bekend gemaak bestaande uit 36 atlete vanaf 11 nasies vir die 2024 Olimpiese Spele. Die span, wat uit 23 mans en 13 vroue bestaan, sal aan 12 sportsoorte deelneem, insluitend atletiek, boks en swem. Die IOK-president, Thomas Bach, sê hierdie uiteenlopende span van verskeie Afrika-lande, Sirië, Iran, Afghanistan, Venezuela en Kuba, poog om bewusmaking oor die wêreldwye migrasiekrisis te kweek. Hy sê die span speel ‘n groot rol om die omvang van die vlugtelingkrisis uit te wys.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….