Nuus 09:00
BULLETIN 2 Mei 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# ActionSA is bekommerd oor werklose gegradueerdes
# Aanklaers vra dat Harvey Weinstein in September herverhoor word
# En sokker: Borussia Dortmund klop PSG en loop voor in die Kampioeneliga-halfeindstryd
# ActionSA vra die regering moet kyk na kwessies wat werkloosheid onder gegradueerdes laat groei. Volgens Statistieke Suid-Afrika was 3,5-miljoen uit tien-miljoen jongmense van 15 tot 24 jaar, die laaste drie maande van verlede jaar óf werkloos óf nie in opleiding nie. Tutu Faleni van Action SA, sê dit is ontmoedigend om te sien hoe universiteitsgegradueerdes deel word van die groeiende werklose massa:
# Die aflegging van vier-duisend-889 werkers van die Suid-Afrikaanse Poskantoor gaan voort. Dit volg nadat die sakeredding-praktisyns se aansoek om befondsing van die Werkloosheidversekeringsfonds se tydelike verligtingskema van die hand gewys is. Die befondsing sou die afleggings met 12 maande uitstel terwyl personeel heropgelei word vir moontlike plasings in posisies terwyl hulle ‘n salaris ontvang. Die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie se kommissaris, Willie Hlophe, sê die finansiële probleme word veroorsaak deur die hoë salarisrekening en kan nie deur die verligtingskema opgelos word nie.
# Die GOOD-party het die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, gekritiseer omdat hy geld van die provinsiale Departement van Onderwys en van Gesondheid verskuif het om die provinsiale Veiligheidsplan te befonds. Die Wes-Kaapse Departement van Gemeenskapsveiligheid en Polisie-oorsig se begroting vir die 2024/2025-boekjaar is 763,4-miljoen-rand. GOOD se sekretaris-generaal, Brett Herron, sê die provinsiale Veiligheidsplan was nie juis ‘n dawerende sukses nie, en Winde behoort die onderwys- en gesondheidsektor om verskoning te vra vir sy opportunisme en swak besluite.
# Manhattan se distriksprokureur, Alvin Bragg, sê aanklaers sal teen September gereed wees vir die Hollywood-rolprentvaardiger, Harvey Weinstein, se herverhoor. New York se hoogste hof het verlede maand Weinstein se 2020-skuldigbevinding aan seksmisdade nietig verklaar en opdrag gegee vir ʼn herverhoor. Regters voer aan daar was foute in die manier waarop die verhoor plaasgevind het. Dit sluit in dat getuienis toegelaat is van vroue wat nie deel was van die aanklagte teen hom nie. Bragg sê hulle soek geregtigheid vir Weinstein se slagoffers:
# Sokker: Borussia Dortmund het Paris St-Germain een-nul geklop op Signal Iduna-park in Duitsland, in hul eerste halfeindstryd in die Kampioeneliga. Niclas Fullkrug se doel in die eerste helfte was genoeg om die oorwinning te beklink. Die twee spanne sal mekaar nou weer volgende week Dinsdag in die tweede halfeindstryd in Parys pak, met die wenner wat Real Madrid óf Bayern München op 1 Junie in die eindstryd op Wembley sal ontmoet. Dortmund se bestuurder, Edin Terzic, sê hulle het die oorwinning verdien:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-56-sent teen die dollar, 19-rand-90-sent teen die euro en 23-rand-27-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 57-duisend-408-dollar-86-sent. Die prys van goud is twee-duisend-320-dollar-14-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 83-dollar-92-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….