Nuus 09:00
BULLETIN 11 November 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die VF Plus sê die Wysigingswetsontwerp op Outeursreg is nog ‘n rede waarom Suid-Afrika AGOA verloor het
# Firoz Cachalia sê die polisie het 115,5-miljoen-rand betaal aan polisiebeamptes wat strafregtelik aangekla is
# En Israel se nuwe Parlement word ingesweer, terwyl Eisenkot sukkel om ‘n regering te vorm
# Die Vryheidsfront Plus sê die Wysigingswet op Kopiereg het nou ook ernstige ekonomiese skade aangerig. Dis een van die redes waarom Suid-Afrika nie meer deel is van Amerika se Wet op Groei en Geleenthede in Afrika nie. Die Konstitusionele Hof het in Junie dele van die wet ongrondwetlik verklaar. Jaco Mulder van die VF Plus sê die beswaar dat intellektuele eiendomsbeleid nie aan AGOA voldoen nie, handel rondom die voorsiening van regverdige gebruik:
# Die waarnemende minister van Polisie, Firoz Cachalia, het onthul 177 lede van die Suid-Afrikaanse Polisiediens is tussen April verlede jaar en Augustus vanjaar strafregtelik aangekla. Hiervan is 118 aangekla van korrupsie en 59 van regsverydeling. Cachalia het op ‘n parlementêre vraag geantwoord 115,566-miljoen-rand is aan 767 beamptes betaal wat strafregtelik aangekla is. Hy het ook bekendgemaak dat 629 SAPD-lede tugprosedures deurgaan, 36 is afgedank, nege het bedank voor tugstappe kon begin en 60 is voorlopig geskors.
# Die Stad Tshwane sê die meeste waterstelsels het verbeter, wat help om voorsiening in verskeie streke bestendig te maak. Dit volg na weke lange waterbeperkings nadat die meeste reservoirs se vlakke weens groot verbruik gedaal het. Die Soshanguve L-, Klapperkop-, Refiloe-, Mamelodi-, Derdepoort- en Montana-reservoirs het herstel. Die metro se woordvoerder, Lindela Mashigo, sê inwoners moet water steeds spaarsaam gebruik om reservoir-vlakke te handhaaf en verdere druk op die watervoorsieningstelsel te keer.
Nuus uit die buiteland:
# Israel se pasverkose parlement is ingehuldig, maar politieke onderhandelinge om ‘n nuwe regering te vorm, is steeds op ‘n dooiepunt. Die voormalige militêre hoof, Gadi Eisenkot, het tot 6 Desember tyd om genoeg steun te werf om eerste minister Benjamin Netanyahu te vervang. Netanyahu se groep het 53 setels in die Parlement van 120 lede, terwyl Eisenkot se alliansie oor 48 setels beskik. Arabies-geleide partye hou die oorblywende 19 setels, maar Eisenkot het aangedui hy sal nie ‘n koalisie met hulle vorm nie. Ander moontlikhede sluit in ‘n alliansie met ultra-Ortodokse partye of ‘n eenheidsregering saam met Netanyahu.
# Gholf: Die sesmalige major-kampioen, Rory McIlroy, gaan sy bes doen om Colin Montgomerie se rekord van agt Wedloop na Dubai-titels te ewenaar. Die DP World-toerkampioenskap begin vandag en die Noord-Ier is tans tweede op die punteleer, 533 punte agter die Spanjaard Eugenio Characca. McIlroy hoop sy vertoning in die jaareind-toernooi, wat hy reeds drie keer gewen het, sal hom die titel besorg:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-51-sent teen die dollar, 18-rand-44-sent teen die euro en 22-rand-4-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 73-duisend-530-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-44-dollar-23-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 94-dollar-94-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….