Nuus 09:00
BULLETIN 7 November 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ANC verloor dalk sy volstrekte meerderheid in Mangaung
# Buti Manamela benadruk groen waterstof as deel van Suid-Afrika se oorgang na skoner energie
# En, Russell Brand se advokaat meld homself by die Balieraad aan na ‘n konfrontasie met ‘n joernalis by die hof
# Geen politieke party het tot dusver ‘n volstrekte meerderheid in die plaaslikeregeringsverkiesing in die Mangaung-metropolitaanse munisipaliteit in die Vrystaat behaal nie. Die uitslae van die Verkiesingskommissie toon die ANC loop voor met 36 setels, gevolg deur die DA met 33 setels. Die EFF het nege setels verower, terwyl die Vryheidsfront Plus ses en die Patriotic Alliance vier setels het. Met 101 setels in die raad het ‘n party minstens 51 setels nodig om ‘n volstrekte meerderheid te verseker. Die ANC het dit tydens die 2021 plaaslikeregeringsverkiesing reggekry nadat hy 51 setels gewen het.
# Die Minister van Hoër Onderwys en Opleiding, Buti Manamela, sê Suid-Afrika moet maniere vind om koolstofvrystellings te verminder, terwyl daar steeds aan die land se energie- en ontwikkelingsbehoeftes voldoen word. Manamela het tydens die bekendstelling van die Sentrum vir Spesialisering in Groen Waterstof aan die Noordwes-Universiteit, groen waterstof geïdentifiseer as een van die alternatiewe wat ondersoek word om die land se energie-oorgang te ondersteun. Hy het verduidelik dat waterstof geproduseer kan word deur elektrisiteit te gebruik om water in waterstof en suurstof te verdeel:
# Die polisie het pogings verskerp om ‘n vermeende bedrogsindikaat te ontmantel, na die arrestasie van ‘n 37-jarige man en die herwinning van goedere ter waarde van meer as 432-duisend-rand in Kensington in die Wes-Kaap. Die arrestasie volg na ‘n intensiewe ondersoek na verskeie bedrogsake wat in die Wes-Kaap, KwaZulu-Natal, die Oos-Kaap en Gauteng aangemeld is. Polisiewoordvoerder Ndakhe Gwala sê die sindikaat het na bewering hardewarewinkels geteiken en vals identiteitsdokumente gebruik om goedere op krediet aan te koop, en daarna op die swartmark te herverkoop:
# Die senior advokaat wat die Britse komediant Russell Brand verteenwoordig, het homself by die professionele toesighoudende liggaam aangemeld ná ‘n witwarm konfrontasie met ‘n joernalis, wat gevolg het op Brand se skuldigbevinding aan verkragting en seksuele aanranding. Ian Winter het Donderdag buite die hof die Sunday Times-joernalis Rosamund Urwin gekonfronteer en vir haar gesê hy hoop sy is tevrede met die uitspraak. Sy het geantwoord dat sy bly is dat geregtigheid geskied het, waarop Winter haar daarvan beskuldig het dat sy die saak ondermyn het. Hy het self die voorval na die Balieraad verwys vir ondersoek.
# Rugby: Die Engelse losskakel Fin Smith fiks is verklaar om môre op Twickenham in die openingswedstryd van die Nasiekampioenskap teen Australië te begin, nadat hy ‘n kuitprobleem gehad het. Afrigter Steve Borthwick het vier veranderinge aangebring aan die beginspan wat Argentinië in Julie met 31-24 geklop het. George Furbank is op heelagter, en flank Ben Curry keer terug na toetsrugby ná hy vir 16 maande deur beserings geteister is. Fin Baxter begin as loskopstut in die plek van Ellis Genge, wat na die bank skuif, terwyl die slot Maro Itoje terugkeer om die span aan te voer.
# En, ‘n leierskapsprogram, die eerste in sy soort, is in Mpumalanga van stapel gestuur om die bestuur van agt provinsiale natuurreservate te verbeter. Die program, wat ses maande duur, sal reservaatbestuurders voorsien van praktiese afrigting en mentorskap om hul leierskaps- en besluitnemingsvaardighede te versterk. Die reservate wat deelneem, sluit in Blyderivierpoort, Manyeleti en Loskopdam. Die Mpumalanga-toerisme- en Parke-agentskap sê die inisiatief het ten doel om bewaringspogings te verbeter, aanspreeklikheid te versterk en bedreigde en beter beskerming van bedreigde wild wat gevaar loop om uit te sterf.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….