Nuus 09:00
BULLETIN 25 April 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Jacob Zuma en die MK-party vra uitstel om beëdigde verklarings in te dien teen die OVK se appèl
# Die regering beveg dwelmmisbruik deur die Nasionale Dwelmmeesterplan
# En Goodbye Malaria wil malaria in Suider-Afrika teen 2030 uitroei
# Oudpresident Jacob Zuma en die MK-party se regspan het die Konstitusionele Hof gevra vir uitstel om beëdigde verklarings in te dien, rakende die Verkiesingskommissie se appèlaansoek. Die Hooggeregshof het vroeër gelas, enigiemand wat die appèl wil teenstaan moet teen vandag beëdigde verklarings indien. Die OVK appelleer teen die verkiesingshofbevel wat Zuma toelaat het om vir die Parlement te staan, ondanks sy kriminele rekord. Die MK-party het uitstel gevra tot volgende week Dinsdag.
# Die regering sê hy is vasbeslote om die plaag van dwelmmisbruik in die land hok te slaan. Harm Reduction International se 2022-verslag oor die stand van gevaar het Suid-Afrika uitgewys as een van die wêreld se grootste metamfetamien-markte. Die waarnemende direkteur-generaal van die regering se Kommunikasie- en Inligtingstelsel, Nomonde Mnukwa, sê die Nasionale Dwelmmeesterplan is ‘n nasionale konsep om dwelmmisbruik en onwettige dwelmhandel te beveg, en die negatiewe uitwerking daarvan op die samelewing te bekamp:
# Die gewese Wes-Kaapse regterpresident John Hlophe sê die Konstitusionele Hof moet sy saak aanhoor ingevolge die leerstelling van noodsaaklikheid. Hy sê die hof moet die resolusie tersyde stel wat die parlementêre komitee vir Justisie en Korrektiewe Dienste in November aanvaar het om hom te verwyder. Hlophe is in Februarie in ʼn staat van beskuldiging geplaas en president Cyril Ramaphosa het sy verwydering uit sy amp verlede maand bekragtig. Hy sê sy saak kan die hele regstelsel raak omdat hy die Parlement se ampsklag-prosedure teen hom, uitdaag.
# Dringende samewerking deur die regering, sakesektor en sektore-sonder-winsbejag is nodig om die verwoestende effek van malaria te stuit. Dit is die boodskap van die Goodbye Malaria-veldtog, wat malaria teen 2030 in Suider-Afrika wil uitskakel. Vandag is Wêreld-malariadag onder die tema, My Gesondheid, My Reg wat die behoefte benadruk om ongelykhede aan te spreek wat bestaan rakende toegang tot malariavoorkoming. Goodbye Malaria se bestuurshoof, Sherwin Charles, sê malaria in Suid-Afrika wek steeds groot kommer aan die Oostelike grense:
# Sokker: Everton het Liverpool se hoop op ʼn Premierliga-titel ʼn groot terugslag gegee met ʼn twee-nul-oorwinning by Goodison-park. Jarrad Branthwaite en Dominic Calvert-Lewin se doele het bygedra om Everton se oorlewingstryd ʼn hupstoot te gee. Die Reds het ʼn oorwinning nodig om die leiers, Arsenal, se puntetelling te ewenaar, maar is nou drie punte agter in die tweede plek met vier wedstryde wat oorbly. Liverpool se bestuurder, Jurgen Klopp, sê hulle was bloot nie goed genoeg nie:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-21-sent teen die dollar, 20-rand-58-sent teen die euro en 23-rand-95-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-261-dollar-96-sent. Die prys van goud is twee-duisend-312-dollar-95-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 88-dollar-13-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….