Nuus 09:00
BULLETIN 2 November 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Verskerpte verkiesingsveiligheidsmaatreëls is in plek vir al die provinsies
# Minister Mchunu betwis ‘n deursoekingsbevel wat gebruik is vir sy woning in KwaZulu-Natal
# En nege mense is dood nadat ‘n Learjet in Palm Beach neergestort het
# Die Nasionale Gesamentlike Operasionele en Intelligensiestruktuur sê hy is gereed om ‘n vrye, regverdige en veilige plaaslikeregeringsverkiesing in die land te verseker. Spesiale stemme word vandag en môre uitgebring en die hoof-verkiesingsdag is Woensdag. NATJOINTS se voorsitter, Tebello Mosikili, sê veiligheid by alle stemlokale is nagegaan, en intelligensie-geleide ontplooiing en spesialis-eenhede is op gereedheid geplaas. Sy het bevestig nasionale en provinsiale gesamentlike operasionele strukture is gereed en ten volle operasioneel:
# Die geskorste minister van Polisie, Senzo Mchunu, het die Hooggeregshof in Johannesburg genader en voer aan die lasbrief om sy huis in KwaZulu-Natal te deursoek, is “deur misleidende inligting” verkry. Lede van die provinsiale eenheid vir ernstige en geweldsmisdade het in September ʼn deursoek-en-beslagleggingsoperasie by die eiendom uitgevoer en op elektroniese toestelle beslag gelê. Mchunu sê in sy hofaansoek die lasbrief is ongeldig omdat die beëdigde verklaring wat dit ondersteun nie feitelike inligting bevat oor ʼn redelike vermoede dat ʼn misdaad gepleeg is nie.
# Die Stad Kaapstad sê minibustaxi-dienste het normale bedrywighede hervat na beraadslaging met die leierskap van die Suid-Afrikaanse Nasionale Taxiraad. Geskille tussen die taxiverenigings CATA en CODETA, vermoedelik oor ʼn roete wat Delft, Langa en Epping verbind, het verlede week ongeveer 12 lewens geëis. Die burgemeesterskomiteelid vir Stedelike Mobiliteit, Rob Quintas, sê die metro, Wes-Kaapse regering en polisie het die taxibedryf verseker van die polisie se sigbare ondersteuning:
# Nege mense is dood nadat ’n Learjet wat uit Austin, Texas, na die Bahamas onderweg was, gister in ’n woonbuurt in Palm Beach, Florida, neergestort het. ’n Video toon hoe die vliegtuig skerp afduik en naby ’n hoofpad in ’n reuse-vuurbal ontplof. Minstens 600 inwoners is uit die gebied ontruim. Die ongeluk is die tweede dodelikste in die VSA vanjaar, nadat 12 mense dood is toe ‘n vliegtuig met valskermspringers in Junie in Butler, Missouri neergestort het. Die goewerneur van Florida, Ron DeSantis, beskryf die voorval as rampspoedig:
# Sokker: Arsenal het Liverpool in hulle eerste Premierliga-oorwinning in 14 jaar op Anfield met 1-0 geklop en loop met drie punte voor op die punteleer. Kai Havertz se doel in die 16de minuut het die oorwinning verseker en die Gunners het daarna alle aanvalle deur die gashere suksesvol afgeweer. Havertz het met hierdie wen-doel die Duitser geword wat die meeste punte in Premierliga-geskiedenis aanteken. Sy 46 loopbaan-doele verbeter die gewese middelveldspeler van Manchester City, Ilkay Gündoğan, se rekord. Arsenal is nou drie punte voor Manchester City wat tweede is, en nege punte voor Liverpool.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-69-sent teen die dollar, 18-rand-66-sent teen die euro en 22-rand-36-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 78-duisend-504-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-905-dollar-11-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 114-dollar-12-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….