Nuus 09:00
BULLETIN 29 Oktober 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Ministerie van Polisie verskerp veiligheidsmaatreëls op die vooraand van die plaaslikeregeringsverkiesing
# Adjunkminister Steenhuisen vra vir groter lokalisering, beleggings en werkskepping in die motorbedryf
# En, die Britse eerste minister sê daar sal nie ‘n algemene verkiesing binne die volgende 12 maande wees nie
# Die Ministerie van Polisie sê hy het gesprekke met sleutelbelanghebbendes verskerp om polisiegereedheid te evalueer en te versterk in die aanloop tot die plaaslikeregeringsverkiesing volgende week. Altesaam 29,2-miljoen Suid-Afrikaners is geregistreer om te stem, en daar word verwag dat 2,6-miljoen van hulle hul volgende Maandag en Dinsdag spesiale stemme sal uitbring. ‘n Woordvoerder vir die Ministerie van Polisie, Kamogelo Mogotsi sê die gesprekke het gehandel oor gereedheid en die maatreëls wat ingestel word om doeltreffende samewerking tussen wetstoepassingsagentskappe te verseker:
# Die adjunkminister van Handel, Nywerheid en Mededinging, John Steenhuisen, doen ‘n beroep op groter lokalisering, belegging en werkskepping in Suid-Afrika se ná-verkoopmark vir motors. Die bedryf het in 2025 ‘n omset van ongeveer 933-miljard-rand behaal en 202,6-miljard-rand tot die bruto binnelandse produk bygedra. Die sektor ondersteun meer as 310-duisend werksgeleenthede wat ongeveer 70-persent van indiensneming in die motorbedryf verteenwoordig. Dit is oor meer as 23-duisend ondernemings, hoofsaaklik klein en middelgrootte ondernemings versprei. Steenhuisen sê die land beskik oor die ingenieurskundigheid, gevestigde verspreidingsnetwerke en nywerheidsvermoëns om ‘n toonaangewende spilpunt vir die motor-ná-verkoopmark in Afrika te word.
# Die GOOD-party sê die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie moet geloof word vir sy poging om die oordrag van 49 eiendomme, insluitend die Goeie Hoop-sentrum, te keer. Die kommissie wil hê die Wes-Kaapse regering moet die oordragte staak, hangende ‘n hersiening van die Stad Kaapstad se besluit om die eiendomme te verkoop. GOOD se sekretaris-generaal, Brett Herron, sê wanneer ʼn halfmiljoen gesinne nie grond besit of blyplek het nie, moet staatsgrond tot hul voordeel gebruik word:
# Die Britse eerste minister Andy Burnham sê daar sal geen vroeë algemene verkiesing binne die volgende 12 maande plaasvind nie. Dit volg na bespiegeling dat hy sy posisie moontlik wil versterk. Reform UK se leier, Nigel Farage, het ʼn vroeë verkiesing gevra en beweer die eerste minister het nie ʼn mandaat nie. Die volgende algemene verkiesing moet teen Augustus 2029 plaasvind. Burnham sê hy fokus nou daarop om die land te regeer, terwyl Brittanje begin om sy momentum, sin van positiwiteit en rigting terug te kry:
# Rugby: Die Springbok-haker Bongi Mbonambi sal onmiddellik vir die Stormers uitdraf nadat hy op die plaasvervangersbank aangewys is in Saterdag se Verenigde Rugbykampioenskap-wedstryd teen die Ierse span Ulster in Kaapstad. Mbonambi is die Stormers se jongste aanwins nadat hy die Haaie verlaat het. Vernon Paulo sal die nommer-twee-trui dra. Die Stormers het elf veranderings in die span wat verlede naweek die Scarlets geklop het. Kaptein Ruhan Nel keer terug van ‘n besering. Yaqeen Ahmed, wat volgende maand sy Springbok-buiging kan maak, en Cobus Reinach is die skakelpaar.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-61-sent teen die dollar, 18-rand-52-sent teen die euro en 22-rand-14-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 79-duisend-771-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-38-dollar-8-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 115-dollar-28-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….