Nuus 09:00
BULLETIN 25 Oktober 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Julius Malema vra vir gratis water en elektrisiteit vir die ontvangers van maatskaplike toelaes
# AfriForum dring aan dat die regering die aanbod van SpaceX aanvaar vir vyf-duisend plattelandse skole
# En rugby: Die Bulle stuit ‘n Ulster-aanslag en behaal ‘n VRK-bonuspunt-oorwinning
# Die EFF-president Julius Malema vra vir gratis water en elektrisiteit vir ontvangers van maatskaplike toelaes. Tydens die party se ‘Tshela Thupa‘-veldtog vir die plaaslikeregeringverkiesing op die KaMaqhekeza-stadion in Nkomazi, Mpumalanga, het Malema gesê kwesbare huishoudings behoort toegang tot basiese dienste te hê, sonder die bykomende las van onbekostigbare nutsdienste. Die voorstel kom te midde van voortdurende kommer oor die stygende lewenskoste en die finansiële druk waarmee lae-inkomstehuishoudings te kampe het:
# AfriForum vra die regering om SpaceX se aanbod te aanvaar om gratis internettoegang aan vyf-duisend landelike skole in Suid-Afrika te verskaf. Louis Boshoff van die organisasie sê die aanbod is meer as ‘n jaar gelede gemaak, op voorwaarde dat Starlink as SpaceX se internetdiensverskaffer toegang tot die plaaslike mark verkry. Boshoff beskuldig die regering daarvan dat hy weier om eienaarskapsvereistes te verslap, onder meer die bepaling dat minstens 30-persent van gelisensieerde maatskappye swart eienaars moet hê:
# Die onderwysaktivis Hendrick Makaneta sê Sektor-onderwys- en Opleidingsowerhede behoort sukses te meet aan die aantal leerders wat werk kry of besighede begin, eerder as om bloot te tel hoeveel mense opgelei is of hoeveel sertifikate uitgereik is. Statistiek Suid-Afrika se syfers vir die tweede kwartaal van 2026 toon dat die amptelike werkloosheidskoers op 33,6-persent staan, en tot 47,4-persent styg onder jongmense tussen die ouderdomme van 15 en 34. Volgens Makaneta moet vaardigheidsontwikkelingsprogramme lei tot betekenisvolle werksgeleenthede en entrepreneurskap:
# Die Wes-Kaapse LUR vir Infrastruktuur, Tertuis Simmers sê aansienlike vordering word gemaak met die padverbeteringsprojek van 1,165-miljard-rand en herstelwerk weens vloedskade langs die Franschhoekpas. Die projek behels padopgraderings, die herseël van padoppervlakke en omvattende herstelwerk ná ernstige oorstromings. Die werk sal na verwagting in Julie 2027 voltooi wees, mits padboutoestande gunstig is. Volgens Simmers sal die Franschhoekpas na verwagting tydens die bouersvakansie van middel Desember tot middel Januarie weer oopgestel word, met ‘stop-en-ry’-verkeersbeheer in plek.
# Honderdduisende betogers het gister in Frankryk opgeruk, in meestal vreedsame saamtrekke wat ontaard het in botsings in Parys en Marseille ná donker. Franse wetstoepassingsagentskappe het meer as 70-duisend polisiebeamptes regoor die land ontplooi om ‘n herhaling van verlede week se geweld te voorkom. Die ministerie van Binnelandse Sake het gesê meer as 400-duisend mense het aan die betogings deelgeneem, hoewel vakbonde glo die ware syfer is twee keer so hoog. Die hoofbetoging het aan die suidoostelike rand van Parys uitgebreek, waar minstens 110-duisend mense opgedaag het om teen stygende lewenskoste en groeiende ongelykheid te betoog.
# En rugby: Die Bulle het die Ierse span Ulster in die vierde ronde van die Verenigde Rugbykampioenskap op Loftus Versfeld in Pretoria met 34-26 geklop. Die tuisspan het ná die eerste helfte met 21-7 voorgeloop, met kaptein Marcell Coetzee se twee drieë en agsteman Elrigh Louw wat nog ‘n drie bygevoeg het. Ulster het in die tweede helfte sterk teruggeveg met drie drieë om die gaping tot vyf punte te verklein. Die plaasvervanger-losskakel Curwin Bosch het egter die Bulle se oorwinning verseker met ‘n strafskop in die doodsnikke van die wedstryd vir ‘n bonuspunt-oorwinning.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….