Nuus 09:00
BULLETIN 6 Augustus 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Fikile Mbalula dreig met regstappe oor Dlamini-Zuma se bewerings van stemkopery
# Donald Trump sê hy verkies ‘n ooreenkoms met Iran eerder as verdere militêre optrede
# En sokker: Fifa se bestuursraad herbevestig sy volle steun vir Infantino as president
# Die ANC-sekretaris-generaal, Fikile Mbalula, het die bewerings van die voormalige kabinetsminister en partyveteraan Nkosazana Dlamini-Zuma, ten sterkste ontken. Tydens ‘n verskyning op die African Renaissance -potgooi het Dlamini-Zuma beweer Mbalula het kontant aan afgevaardigdes uitgedeel om sy verkiesing en dié van president Cyril Ramaphosa by die ANC se 2022-verkiesingskonferensies te verseker. Mbalula het die bewerings as “baie skadelik en pynlik” beskryf en sê hy het sy prokureurs geraadpleeg. Hy sê hy is vry en regverdig deur afgevaardigdes deur middel van ‘n geheime stemming verkies, soos vereis deur die ANC-grondwet.
# Die Suid-Afrikaanse Plaaslike Regeringsvereniging het die Kabinet se besluit verwelkom om die groen lig te gee vir die Wysigingswetsontwerp op Munisipale Strukture, algemeen bekend as die Koalisiewetswetsontwerp, om in die Parlement ter tafel gelê te word. Die wetsontwerp is daarop gemik om bestendigheid te bring in plaaslike rade waar geen party ‘n volstrekte meerderheid in verkiesings behaal nie. SALGA se woordvoerder, Motalatale Modiba, sê ervarings na die verkiesings van 2016 en 2021 toon dat swak bestuurde oorgange en brose koalisie-ooreenkomste toesig kan verswak, administrasie kan ontwrig en basiese dienste onder druk kan plaas:
# Die premier van Gauteng, Panyaza Lesufi, het begunstigdes van nuutgeboude regeringshuise versoek om nie toe te laat dat spaza-winkels van buitelanders vanaf hul eiendomme bedryf word nie. Hy het gister 105 voltooide huise by die Westonaria Borwa Mega-projek in die Wes-Rand oorhandig. Die woordvoerder van die Departement van Menslike Nedersettings, Tahir Sema, sê behuisingsontwikkelings behoort ekonomiese geleenthede vir plaaslike entrepreneurs te skep. Hy sê die premier het voornemende plaaslike entrepreneurs aangemoedig om gebruik te maak van regeringsbefondsing wat beskikbaar is deur die Departement van Kleinsake-ontwikkeling om hul eie ondernemings te vestig:
# Die Amerikaanse president Donald Trump sê hy sou eerder ‘n ooreenkoms aangaan om ‘n einde te maak aan die oorlog in Iran omdat hy “nie mense wil doodmaak” nie. Washington voer aan gesprekke met Teheran gaan voort en daar is vordering, veral oor die heropening van die Straat van Hormoes. Iran het egter verklaar hy onderhandel nie met Amerika nie, het nie planne om dit te doen nie en is in gesprekke met Oman. Trump het in Las Vegas, Nevada herbeklemtoon dat enige ooreenkoms moet verseker Iran het nooit ‘n kernwapen nie:
# Sokker: FIFA sê Gianni Infantino sal die president bly en die bestuursraad het sy ondersteuning vir sy leierskap herbevestig. Dit volg nadat die beheerliggaam gister ‘n noodvergadering in Rabat, Marokko gehou het na toenemende kritiek teen Infantino se voorstel wat nou van die tafel af is. Hy wou aandele in FIFA-kompetisies aan privaat beleggers verkoop. Infantino en die sekretaris-generaal Mattias Grafstrom het om verskoning gevra vir hul “foute”. FIFA sê met die voorstel wat nou onttrek is, sal hy nie langer aanvalle op sy integriteit, goeie bestuur en werkwyse duld nie.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-33-sent teen die dollar, 18-rand-85-sent teen die euro en 21-rand-98-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-569-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-261-dollar-46-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 82-dollar-38-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….