Nuus 09:00
BULLETIN 7 April 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die regering stuur die eerste been van die Werkloosheid-Versekeringsfonds-Arbeids-aktiveringsprogram in Johannesburg van stapel
# Twee opvoeders se tragiese dood wek kommer by Gautengse Onderwysdepartement
# En, rugby: Die Cheetahs en Leeus word uitgeskakel in die Uitdaagbeker
# Die regering het die eerste instelling van die 55 Werkloosheid-Versekeringsfonds-Arbeids-aktiveringsprogramme by NASREC in Johannesburg aangekondig. As deel van ‘n 23,8-miljard-rand nasionale veldtog, bekendgestel deur die minister van Arbeid, Thulas Nxesi, mik die fonds na die skep van meer as 700-duisend werkgeleenthede landwyd. Die kommissaris van die Werkloosheidsversekeringsfonds, Teboho Maruping, sê die program bied geleenthede wat tussen twaalf- en 36-maande sal duur, met die beleggings wat herwin sal word deur bydraes tot die WVF en inkomste ingewin deur beleggings:
# Die Gautengse LUR vir Onderwys Matome Chiloane is diep bekommerd oor die dood van twee opvoeders in afsonderlike skietvoorvalle op dieselfde dag. Sy woordvoerder Steve Mabona sê in een voorval is ‘n Lewensoriënterings-onderwyser wat na Riverside High School in Drie Riviere gery het, doodgeskiet. In die tweede voorval is die departementshoof van Handel by die Unity Secondary School in Daveyton noodlottig gewond. Mabona sê lede van die Psigo-maatskaplike Steuneenheid word môre na beide skole ontplooi:
# Die Hooggeregshof in Durban het Analidia Dias Bella Dosantos ‘n lewenslange vonnis opgelê en Charmaine Khumalo tot 18-jaar tronkstraf gevonnis vir die moord op Dosantos se man, Mark Buttle, in Februarie 2018. Die woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag in KwaZulu-Natal, Natasha Ramkisson-Kara, sê die twee vroue het beplan om Buttle te vermoor vir sy lewensversekeringspolisse, met Dosantos die bevoordeelde. Dosantos het Buttle gelok na die Newlands-Oosgebied deur voor te gee sy wil hulle huwelik laat herleef, en hom 53 steekwonde toegedien:
# ‘n Amerikaanse amptenaar het bevestig die land is op ‘n hoë gereedheidsgrondslag en berei voor vir ‘n moontlike aanval deur Iran, gemik op Israelse of Amerikaanse bates in die streek, in reaksie op Israel se aanval op die Iranse ambassade in Sirië. Die amptenaar het aan CNN gesê hulle is beslis op ‘n hoë vlak van waaksaamheid, en dat ‘n aanval die komende week kan plaasvind. Vermeende Israelse vegvliegtuie het Maandag Iran se ambassade in Damaskus gebombardeer, in ‘n aanval waarin ‘n Iranse militêre aanvoerder dood is. Iran het gesê hy behou die reg voor tot ‘n beslissende reaksie.
# En, laastens, rugby: ‘n Terugveg-poging van die Cheetahs het gister net-net tekort geskiet toe die Franse span Clermont hulle met 27-22 uit die Uitdaagbeker geboender het in hulle laaste-16 kragmeting in die Stade Marcel Michelin. Dit was moontlik die laaste wedstryd van die uittredende Springbokster Ruan Pienaar, wat laat in die wedstryd ‘n deurslaggewende fout gemaak het wat sy span se kanse op ‘n oorwinning gekelder het. In Treviso in Italië is die Leeus ook gisteraand uit die Uitdaagbeker geskop toe Benetton hulle met 27-17 geklop het.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….