Nuus 09:00
BULLETIN 3 April 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Vereniging vir Staatsamptenare versoek die regering om na sy burgers om te sien te midde van prysstygings
# Minister Cele beloof geregtigheid sal seëvier in die sake van die Universiteit van Fort Hare
# En, swem: Adam Peaty kwalifiseer vir die Olimpiese Spele in Parys
# Die Vereniging van Staatsamptenare sê die onlangse verhogings in brandstof- en kragpryse sal finansiële probleme vir staatsamptenare en alle Suid-Afrikaners verdiep. Die VSA kritiseer die regering se salarisverhoging van 4,7-persent vir staatsamptenare en sê dit sal nie help met die stygende lewenskoste nie. Hulle eis aanspreeklikheid vanaf die regering en is gereed om ‘n opbouende dialoog te voer om oplossings te vind. Claude Naiker van die vereniging doen ‘n beroep op die regering om hierdie prysstygings te heroorweeg en die welstand van landsburgers eerste te stel:
# Maande se werk om ‘n Adjunk- openbare Beskermer aan te wys, is tot niet danksy die afgesette Openbare Beskermer, Busisiwe Mkhwebane, wat deesdae ‘n EFF-LP is. Sy het nagelaat om haar verbintenis met twee van die kandidate op die kortlys, Shadrack Tebeila en Ponatshego Mogaladi, te verklaar. Tebeila verteenwoordig Mkhwebane tans pro bono in haar voortgesette stryd oor die staat van beskuldiging teen haar. Die keuringsproses moet nou van vooraf begin, nadat LP’s op die portefeuljekomitee vir Justisie, besluit het om die onderhoude waarmee hulle begin het, te skrap.
# Die minister van Polisie, Bheki Cele sê dit is ontstellend dat sommige van die individue wat by die Universiteit van Fort Hare in hegtenis geneem is, toevertrou is met die lewensvatbaarheid van die instelling. Vier-en-twintig verdagtes is aangekeer vir hulle onderskeie rolle in beweerde bedrog, korrupsie en ontvoeringsake, insluitend moord en poging tot moord, wat verband hou met twee sluipmoorde en pogings tot sluipmoorde sedert 2022 by die universiteit. Vyftien verdagtes het gister in die Dimbaza Landdroshof in die Oos-Kaap verskyn. Cele sê die lang arm van die gereg sal nie selektief wees of genade betoon nie.
# Die sekretaris-generaal van die Verenigde Nasies, António Guterres, het die dood van sewe humanitêre hulpwerkers in Gaza veroordeel. Die sewe slagoffers, wat vir World Central Kitchen gewerk het, is dood toe hul konvooi vanuit die lug deur ‘n Israelse hommeltuig aangeval is. Drie van die vermoorde hulpwerkers was Britse burgers. ‘n Poolse burger, ‘n Australiër, ‘n Palestyn en ‘n Amerikaans-Kanadese burger is ook vermoor. Guterres sê die aanval is gewetenloos, maar dit is ‘n onvermydelike gevolg van die manier waarop die oorlog gevoer word.
# Swem: Die driemalige Olimpiese kampioen, Adam Peaty, het sy plek by die Olimpiese Spele in Parys verseker nadat hy die 100 meter-borsslag by die Britse kampioenskappe in Londen gewen het. Die 29-jarige het die muur in 57.94 sekondes geraak, wat sy vinnigste tyd is sedert hy sy Olimpiese titel in 2021 verdedig het. Peaty, wat ‘n terugkeer maak nadat hy tyd geneem het om na sy geestesgesondheid om te sien, sê, in plaas van woede en frustrasie, vind hy nou vrede in die water:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-78-sent teen die dollar, 20-rand-24-sent teen die euro en 23-rand-63-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-284-dollar-53-sent. Die prys van goud is twee-duisend-285-dollar-85-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 88-dollar-94-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….