Nuus 09:00
BULLETIN 14 Oktober 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Suid-Afrikaanse huishoudings word deur hongersnood bedreig
# Die Workers and Socialist Party vra COSATU om sy politieke bande met die ANC te verbreek
# En rugby: Suid-Afrikaanse spanne verskuif hul aandag na die Kampioenebeker en Uitdaagbeker
# Voedselsekerheid in Suid-Afrika het in 2025 verswak, met 12-persent huishoudings en 14,7-persent individue wat honger gely het. Dit is volgens die Shoprite-groep se 2026 Suid-Afrikaanse Voedselsekerheid-aanwyser. Die land se algehele voedselsekerheidsyfer het verlede jaar tot 52,6 gedaal teenoor 56,5 in 2024. Die rede is voedsel-inflasie wat die beskikbaarheid van kos verminder het, terwyl toegang tot kos en verskeidenheid bestendig gebly het. Sanjeev Raghubir van die Shoprite-groep sê stygende elektrisiteitskoste, vervoer en ander noodsaaklike koste beperk huishoudelike begrotings. Hy sê ondersteuning moet dus verder as die kosmandjie strek.
# Die Workers and Socialist Party het die nuwe COSATU-leierskap aangemoedig om sy 2022-besluit uit te voer en politieke bande met die ANC te verbreek. Afgevaardigdes by COSATU se 15de nasionale kongres in Kempton Park, Gauteng, het gister gestem vir die vakbondfederasie se ses senior leiers, met die uitslae wat vandag verwag word. Mametlwe Sebei van die party sê COSATU moet die organisering van werkers, die stryd teen afleggings en die verdediging van werkersbelange prioritiseer:
# ActionSA in Tshwane het die DA se burgemeesterskandidaat, Cilliers Brink, gekritiseer oor die finansiële en waterinfrastruktuur-mislukkings tydens sy termyn as metro-leier, van Maart 2023 tot September 2024. ActionSA-woordvoerder, Henriette Frohlich, sê onder Brink se burgemeesterskap het geld wat die metro aan Eskom skuld toegeneem van 1,1-miljard-rand tot 6,67-miljard-rand. Sy sê skuld het gestyg tot 26-miljard-rand, met tien-miljard aan krediteure. Sy voeg by Tshwane het in Oktober 2024 ‘n vierde agtereenvolgende onbefondsde begroting goedgekeur:
# Die Amerikaanse ambassadeur in Griekeland, Kimberly Guilfoyle, het bedank ná ‘n reeks berigte oor beweerde wangedrag. Die voormalige Fox News-aanbieder het na bewering ‘n Donald Trump-skenker gevra om haar groot kredietkaartrekening te betaal voor haar bevestigingsverhoor, in ruil vir toegang tot die administrasie. Die 57-jarige het tydens haar ampstermyn in Athene ook onvanpas opgetree en onbehoorlike geskenke en dienste aanvaar. Guilfoyle ontken enige wangedrag en het onderneem om haar naam, reputasie en integriteit te verdedig.
# Rugby: Suid-Afrikaanse spanne vestig nou hul aandag op die Kampioenebeker en die Uitdaagbeker, waarin hulle in die verlede nie veel sukses behaal het nie. Die Stormers, die Bulle en die Leeus neem aan die Kampioenebeker deel, en die Haaie en Cheetahs aan die Uitdaagbeker. Die Stormers speel teen die Engelse klub Bristol Bears in Kaapstad, en die Bulle verwelkom Stade Français op Loftus. Die Leeus kom teen La Rochelle te staan, die Haaie speel teen Lyon en die Cheetahs speel teen Aviron Bayonnais, almal in Frankryk.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-46-sent teen die dollar, 18-rand-45-sent teen die euro en 21-rand-84-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 83-duisend-627-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-160-dollar-57-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 108-dollar-50-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….