Nuus 09:00
BULLETIN 13 Oktober 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Mayibuye hoop vir ‘n veilige eindeksamen en ‘n ekonomiese toekoms vir die 2026-matrieks
# Tradisionele leiers vra vir dringende beskermingsmaatreëls
# En ‘n Franse kuberaanval laat supermark-yskaste warmer word
# Die Afrika Mayibuye-beweging vra ‘n veilige, regverdige en geloofwaardige matriekeksamen vir die Klas van 2026, en sê die regering moet seker maak jongmense het ná skool toegang tot betekenisvolle ekonomiese geleenthede. Die minister van Basiese Onderwys, Siviwe Gwarube, het aangekondig dat 962-duisend-832 kandidate geregistreer is om die Nasionale Senior Sertifikaat-eksamen wat vandag begin, af te lê. Mayibuye se woordvoerder, Sydney Baloyi, sê jongmense het ʼn ware ekonomiese toekoms nodig met geleenthede om op ʼn betekenisvolle wyse deel van die ekonomie te wees:
# Die Nasionale Huis van Tradisionele en Khoi-San-leiers sê hy onderhandel met die regering oor geskikte beskermingsdienste vir tradisionele leiers. Dit volg na die onlangse skietvoorvalle waarby senior tradisionele leiersfigure betrokke was. Die voorvalle sluit in die Vrystaatse Provinsiale Huis se voorsitter, Morena Neo Mopeli, en die president van die Kongres van Tradisionele Leiers van Suid-Afrika, Kgoshi Mathupa Mokoena. Woordvoerder Khanya Makhanya sê geweld en intimidasie teen diegene wat met leierskap en diens aan gemeenskappe vertrou word, is onaanvaarbaar en moet in die kiem gesmoor word:
# Die onderwysersunie, SADOU, het die afknouery en aanranding van ‘n albino-leerder by die Phutlotau Secondary School in Sekhukhune, Limpopo, veroordeel. Aanlyn videos het getoon hoe die leerder uitgetart en geslaan word. Nomusa Cembi van SADOU het ‘n beroep op die Departement van Basiese Onderwys gedoen om die voorval te ondersoek en vas te stel of onderwysers genoeg gedoen het om die leerder te beskerm. Cembi sê skole moet veilige plekke wees waar alle leerders met respek behandel word en diskriminasie kan nie geduld word nie.
# Kuberkrakers het brande veroorsaak en voedsel by honderde supermarkte oral in Frankryk laat bederf deur die verkoelingseenhede se termometers deur afstandbeheer te verhoog. Die aanval het sowat 330 winkels geraak wat aan verskeie groot supermarkgroepe behoort. Na bewering het sommige verkoelingseenhede tot 50 grade Celsius verhit. Die betrokke winkels moes vars en bevrore voedsel weggooi om verbruikers te beskerm. Franse owerhede het ‘n ondersoek na die aanval van stapel gestuur; dit blyk dat verouderde sagteware vir die verkoelingstelsels daarby betrokke is.
# Motorsport: Die jong Mercedes-renjaer Kimi Antonelli kan moontlik die Formule Een-bestuurderskampioenskap beklink op dié maand se Amerikaanse Grand Prix. Die 20-jarige Italianer loop tans 102 punte voor sy Britse spanmaat, George Russell, nadat hy Sondag in Singapoer die derde plek op die podium behaal het. Daar is nog ses wedrenne in die huidige seisoen oor. Antonelli sal die titel in Texas verseker indien hy sy voorsprong met 23 punte vergroot en Russell en Ferrari se Britse renjaer, Lewis Hamilton, nie genoeg punte aanteken nie.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-52-sent teen die dollar, 18-rand-46-sent teen die euro en 21-rand-84-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 83-duisend-262-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-191-dollar-85-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 107-dollar-79-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….