Nuus 09:00
BULLETIN 10 Oktober 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Vryheidsfront Plus verwerp dreigemente om kritici van hulle Suid-Afrikaanse burgerskap te ontneem
# President Cyril Ramaphosa steun die Vrystaat se planne om nywerheidsontwikkeling te stimuleer
# En swem: Pieter Coetzé verpletter ‘n wêreldrekord in Tasjkent
# Die Vryheidsfront Plus het dreigemente veroordeel om politieke teenstanders en burgerregte-groepe van hul Suid-Afrikaanse burgerskap te ontneem of hulle van hoogverraad aan te kla omdat hulle die land op internasionale vlak kritiseer. Corné Mulder van die party sê hierdie dreigemente skend die Grondwet asook die reg tot burgerskap en vryheid van spraak. Mulder beskuldig die ANC daarvan dat hy kritici wil stilmaal en onderneem om voort te gaan met plaaslike en internasionale kritiek:
# President Cyril Ramaphosa sê hy is bemoedig deur die Vrystaat se planne om nywerheidsgroei te laat herleef, belegging te lok en werksgeleenthede te skep. Hy het gepraat tydens die bekendstelling van die Vrystaat se projek vir belegging en industrialisering. Ramaphosa sê die provinsie was eens ‘n belangrike vervaardigingsentrum, maar swak munisipale dienste en infrastruktuurprobleme het daartoe gelei dat verskeie maatskappye gesluit of elders verskuif het:
# AfriForum sê herhaaldelike kragonderbrekings by skole in Centurion wek kommer, veral in die aanloop tot die eindeksamen. Die organisasie is gevolglik besig met dringende regsoptrede weens die verbreking van ‘n hofbevel. Alana Bailey van Afriforum sê die Stad Tshwane het weer die krag na skole afgesny, ondanks ‘n hofbevel wat dit verbied. Bailey het bygevoeg die onbetaalde munisipale rekeninge is die Departement van Onderwys se verantwoordelikheid, nie dié van die skole nie.
# Tesla het die naam van sy omstrede Volledige Selfbestuur-sagteware op sy Europese webwerwe verander na Tesla-ondersteunde bestuur. Die verandering volg nadat Europese reguleerders bekommerd was die oorspronklike naam kan misleidend wees. Die stelsel kan wel stuur, rem en versnel, maar bestuurders moet steeds waaksaam en gereed wees om beheer oor te neem. Agt lande van die Europese Unie het die tegnologie goedgekeur, met ‘n breër EU-besluit wat tot Desember uitgestel is. Die naamsverandering volg na druk deur Duitse owerhede wat sê die nuwe naam is ‘n meer akkurate beskrywing van wat die sagteware kan doen.
# Die Suid-Afrikaner Pieter Coetzé het die mans se wêreldrekord in die 50-meter rugslag verbeter op die Wêreldbeker-byeenkoms in Oesbekistan. Die 22-jarige het gister in Tasjkent ‘n tyd van 22,09 sekondes aangeteken en sodoende die Rus Kliment Kolesnikov se rekord van 2022 met 0,02 sekondes verbeter. Coetzé het die Rus Egor Kornev geklop, wat tweede geëindig het in 22,29 sekondes, met Pavel Samusenko wat brons ingepalm het. Die wêreldrekord is die jongste hoogtepunt in ‘n merkwaardige jaar vir Coetzé, wat in Julie drie goue-medaljes in rugslag verower het by die Statebondspele in Glasgow.
# En motorsport: Max Verstappen van Red Bull spring eerste weg in Saterdag se snelren by die Singapoer-Grand Prix nadat hy die Mercedes-renjaer George Russell met slegs 0,120 sekondes geklop het. Die viermalige wêreldkampioen het ‘n tyd van een minuut 31,156-sekondes op die Marina Bay-straatbaan aangeteken en vir sy beste wegspringplek ooit in Singapoer. Charles Leclerc van Ferrari het derde gekwalifiseer, voor McLaren se Oscar Piastri en Lando Norris. Die kampioenskapsvoorloper, Kimi Antonelli, kon slegs die sewende plek behaal. Verstappen sê sy motor het beter gevoel op die sagte bande, maar erken daar is steeds swak punte waaraan hulle sal moet werk.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….