Nuus 09:00
BULLETIN 28 Maart 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Ierland gaan ingryp in Suid-Afrika se volksmoordsaak teen Israel
# ‘n Huisleningsmaatskappy sê daar is geen finansiële verligting vir Suid-Afrikaners nie
# En ten slotte: Die deur wat Rose se lewe gered het in Titanic is op ’n veiling verkoop vir R13,5-miljoen
# Ierland sê hy gaan ingryp by Suid-Afrika se volksmoordsaak teen Israel in die Internasionale Strafhof in Den Haag. Die hof het Israel in Januarie opdrag gegee om geen dade te pleeg wat onder die Volksmoordkonvensie val nie en seker te maak sy soldate pleeg nie volksmoord teen Palestyne nie. Israel het die bewering as ongegrond beskryf. Die Ierse minister van Buitelandse Sake, Micheal Martin, sê wat op 7 Oktober verlede jaar in Israel gebeur het en wat nou in Gaza gebeur is ‘n blatante, grootskaalse oortreding van internasionale menseregtewette.
# BetterBond sê huiseienaars sal nog ‘n bietjie langer moet uithou vir effense finansiële verligting. Die Suid-Afrikaanse Reserwebank se Monetêre Beleidskomitee het eenparig besluit om die terugkoopkoers op 8,25-persent te handhaaf, terwyl die prima uitleenkoers op 11,75-persent sal bly. BetterBond se waarnemende bestuurshoof, Bradd Bendall, hulle het gehoop die daling in inflasieverwagtinge vir die volgende twee jaar sou genoeg wees om dié maand rentekoerse te verlaag:
# Die DA in Gauteng sê dis ʼn skande dat die provinsiale Departement van Maatskaplike Ontwikkeling iemand aanstel wat volgens berigte voorheen van seksuele teistering beskuldig is. Vernon Naidoo is aangestel as lid van die forensiese-ouditspan. Die LUR vir Maatskaplike Ontwikkeling, Mbali Hlophe, sê dit was nie haar verantwoordelikheid om forensiese ouditeure aan te stel nie. Refiloe Nt’sekhe van die DA sê dis ʼn kommerwekkende situasie omdat dit werknemers se veiligheid en welstand in gevaar stel:
# Krieket: Sunrisers Hyderabad het ʼn skitterende sege van 31 lopies oor Mumbai Indians behaal in ʼn Indiese Premierliga-wedstryd in Hyderabad. Die Suid-Afrikaner, Heinrich Klaasen, het ʼn onoorwonne 80 van 34 balle behaal as bydrae tot Sunrisers se 277 vir drie wat die hoogste totaal in die IPL se geskiedenis is. Sunrisers se totaal was ook die vierde hoogste in enige mans-T20. Mumbai kon daarna slegs 246 vir vyf op die telbord plaas. Die wedstryd spog boonop met 38 sesse wat ʼn nuwe rekord vir T20-wedstryde is.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-90-sent teen die dollar, 20-rand-46-sent teen die euro en 23-rand-88-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 69-duisend-615-dollar-52-sent. Die prys van goud is twee-duisend-195-dollar-78-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 85-dollar-67-sent per vat.
# En, laastens: Die beroemde deur wat Rose se lewe gered het in die trefferfliek Titanic is opgeveil vir 13,5-miljoen-rand. Die aktrise in die hoofrol, Kate Winslet, het aan die deur vasgeklou nadat die skip gesink het in die rolprent uit 1997, met haar geliefde, Jack, gespeel deur Leonardo DiCaprio, wat stadig in die ysige see verkluim het. Baie mense het intussen gesê die deur was groot genoeg om beide van hulle te red. Die BBC berig die regisseur van Titanic, James Cameron, het onthul hy het tientalle e-posse gekry waarin Rose selfsugtig genoem word, en Jack, ‘n idioot.
Bly ingeskakel vir meer nuus………………