Nuus 09:00
BULLETIN 8 Oktober 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa wil vordering sien met die vrede en bestendigheid in Suid-Soedan
# Solidariteit wen sy saak teen rassekwotas in die regsberoep
# En ‘n pastoorsvrou is gearresteer vir die moord op ‘n baba van vier maande in Atteridgeville
# President Cyril Ramaphosa beklemtoon die belangrikheid om die hersiene ooreenkoms oor die resolusie van die konflik in Suid-Soedan ten volle na te kom om die vredesproses te bevorder. Hy het met Suid-Soedan se president Salva Kiir Mayardit beraadslaag wat op ‘n werksbesoek in Suid-Afrika is. Ramaphosa se woordvoerder, Vincent Magwenya, sê die ontmoeting het die belangrikheid van volgehoue streeksbetrokkenheid en -samewerking ter ondersteuning van vrede, stabiliteit en politieke vooruitgang in Suid-Soedan herbevestig, insluitend ondersteuning vir die verkiesingsvermoë van die C5-lande:
# Die Hooggeregshof in Pretoria het die minister van Handel, Nywerheid en Mededinging, Parks Tau, se besluit om Swart Ekonomiese Bemagtiging se Regsektor-kode in die Staatskoerant se publiseer, tersyde gestel. Die kode stel teikens vir swart eienaarskap en leierskap in regsfirmas, wil geleenthede vir swart vroue uitbrei en meer werk na regsfirmas in swart besit verwys. Die hof het die saak vir heroorweging aan die minister teruggestuur. Emil Glas van Solidariteit se regsnetwerk sê die uitspraak is ʼn groot oorwinning oor die regering se roekelose rassebeleid:
# Die Parlement se portefeuljekomitee oor Gesondheid het gister besluit om nie die aanbieding oor die jaarverslag van die Nasionale Gesondheidslaboratoriumdiens te aanvaar nie. Dit volg nadat komiteelede eenparig kommer uitgespreek het oor die entiteit se versuim om geouditeerde finansiële state in te dien, gedurige nie-nakoming van die Wet op Openbare Finansiële Bestuur en ‘n ineenstorting van bestuur en raad se toesig. Die diens se jaarlikse finansiële state vir 2025/2026 is steeds onvolledig, ongeouditeerd en agterstallig. Die komiteevoorsitter Faith Muthambi sê lede het ‘n formele ondersoek na die raad voorgestel om die situasie te ondersoek.
# Die Gautengse polisie het ‘n 24-jarige vrou van ‘n pastoor in hegtenis geneem in verband met die ontvoering en moord op ‘n baba van vier maande en die beweerde verkragting van die kind se ma in Atteridgeville, Tshwane. Die ma en baba is na bewering deur ‘n pastoor en sy vrou na die Hennopsrivier gelok onder die voorwendsel van ‘n geestelike handeling. Polisiewoordvoerder Dimakatso Nevhuhulwi sê dit is toe dat die ma na bewering verkrag en die baba ontvoer is:
# Gholf: Die tweemalige Major-kampioen Jon Rahm het LIV Golf verlaat en beskou die voorwaardes wat vir die voorgestelde herbekendstelling van die wegbreekreeks as “onaanvaarbaar”. LIV is tans in die VSA onder bankrotskap na Saoedi-Arabië se Openbare Beleggingsfonds sy befondsing onttrek het. Die liga het moontlike finansiering van BC Partners Credit verseker. Rahm se prokureur, John Beck, sê hulle werk daaraan om ‘n skeidingsooreenkoms teen 15 Oktober te finaliseer. LIV Golf is glo sowat 2,495-miljard rand aan die Spanjaard veskuldig vir die res van die kontrak wat hy byna drie jaar gelede onderteken het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-63-sent teen die dollar, 18-rand-64-sent teen die euro en 21-rand-97-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 82-duisend-615-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-136-dollar-55-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 105-dollar-47-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….