Nuus 09:00
BULLETIN 25 Maart 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Fikile Mbalula is vol vertroue die ANC is verseker van ‘n oorwinning
# Julius Malema beskuldig die Vervolgingsgesag en Openbare Beskermer dat hulle Ramaphosa beskerm
# En die VN-agentskap, UNRWA word belet om voedselhulp in die noorde van Gaza te lewer
# Die ANC se sekretaris-generaal Fikile Mbalula sê hulle is vol vertroue die regerende party sal die komende verkiesing met ‘n volstrekte meerderheid wen. Baie meningspeilings in aanloop tot die verkiesing op 29 Mei voorspel die ANC gaan sy meerderheid verloor en minder as 50-persent stemme kry. Mbalula het ʼn saamtrek in Oos-Londen toegespreek en gesê die ANC sal seëvier en niks, nie eens die uMkhonto weSizwe Party, sal hulle laat fokus verloor nie.
# Die EFF-leier Julius Malema beweer die nasionale direkteur van Openbare Vervolging, Shamila Batohi, en die Openbare Beskermer Kholeka Gcaleka beskerm president Cyril Ramaphosa. Hy het gister by die party se bekendstelling van die Wes-Kaapse provinsiale manifes in die Gugulethu-stadion gepraat. Opposisiepartye dring lank reeds daarop aan dat Ramaphosa aanspreeklik gehou word vir die Phala Phala-skandaal en die CR17-veldtog. Malema sê as die Nasionale Vervolgingsgesag onafhanklik was, was Ramaphosa vandag in die tronk:
# Die Wes-Kaapse LUR vir Mobiliteit, Ricardo Mackenzie, sê die provinsiale regering is gereed vir die Paasnaweek en doen alles moontlik om inwoners en besoekers veilig te hou op die paaie. Die LUR het die naweek die Paasfees-padveiligheidsveldtog in Brackenfell bekendgestel. Mackenzie sê hulle sal fokus op voetgangerveiligheid, en bestuurder- en voertuig-padwaardigheid, in die reusestryd om padgebruikers-gedrag te verander:
# Die Verenigde Nasies se Agentskap vir Palestynse Vlugtelinge sê Israel het hulle sonder rede verbied om hulp te verleen in die noorde van Gaza. Israel het UNRWA-personeellede daarvan beskuldig dat hulle aan die sewende Oktober-aanval verlede jaar deelgeneem het en het die agentskap ‘n front vir Hamas genoem. Gaza staar haglike humanitêre toestande in die gesig weens Israel se oorlog teen Hamas. Die agentskap se hoof, Philippe Lazzarini, sê dis onaanvaarbaar dat lewensreddende hulp verbied word tydens ‘n mensgemaakte hongersnood.
# Die tweemalige finalis, Jannik Sinner, is deur na die laaste 16 van die Miami Ope. Die tweede gekeurde Italianer het ingehaal om Tallon Griekspoor van Nederland met 5-7, 7-5 en 6-1 te klop. Die driemalige Grand Slam-kampioen van Skotland, Andy Murray, het met 5-7, 7-5 en 7-6 teen die 23-jarige Tsjeg, Tomas Machac, verloor. In die vroueafdeling het die wêreld se nommer een, Iga Swiatek van Pole na die ronde van 16 deurgedring nadat sy Linda Noskova van die Tsjeggië met 6-7, 6-4 en 6-4 verslaan het. Caroline Garcia van Frankryk het Naomi Osaka in skoon stelle geklop.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-96-sent teen die dollar, 20-rand-50-sent teen die euro en 23-rand-90-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-49-dollar-60-sent. Die prys van goud is twee-duisend-170-dollar-88-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 85-dollar-89-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….