Nuus 09:00
BULLETIN 24 Maart 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die adjunkspeaker Lechesa Tsenoli word aangestel as waarnemende speaker van die Nasionale Vergadering
# ActionSA sê hulle sal onderhandelings lei vir ‘n koalisie-ooreenkoms ná die verkiesing
# En, vlak 5 ontwrigtende reën word vandag oor die noordelike dele van KwaZulu-Natal verwag
# Die Parlement het adjunkspeaker Lechesa Tsenoli aangestel om as waarnemende speaker te dien tydens Nosiviwe Mapisa-Nqakula se afwesigheid. Die woordvoerder van die Parlement, Moloto Mothapo, sê Tsenoli sal alle speaker-verantwoordelikhede waarneem ná Mapisa-Nqakula se besluit om verlof te neem te midde van ’n korrupsie-ondersoek. Intussen het Mothapo die Parlement se deelname aan die Inter-Parlementêre Unie-vergadering bevestig, wat gelei sal word deur die ondervoorsitter van die Nasionale Raad van Provinsies, Sylvia Lucas:
# ActionSA het verklaar ‘n koalisie-regering is die toekoms in Suid-Afrika en beklemtoon sy toewyding aan ‘n nuwe regeringsvisie vir ‘n regverdige, insluitende en voorspoedige land. Hulle wil met doeltreffende kommunikasie en diversiteits-onderwys ‘n verenigde gemeenskap bou, toegespits op betrokkenheid van jongmense en met opleiding vir gemeenskapsleiers in nie-geweldadige geskil-beslegting. Die partyleier, Herman Mashaba, het in manifes-toespraak gesê hy beplan om die koalisie-onderhandelings te lei ná die verkiesing:
# Die burgerlike samelewingsorganisasie, Accountability Now, bevestig die Gedragsowerheid vir die Finansiële Sektor kan eise instel teen die boedel van die voormalige Steinhoff-uitvoerende hoof, Markus Jooste. Dit volg die standpunt van die owerheid dat die voortgesette ondersoek na Steinhoff nie geraak word deur sy dood nie. Jooste, wat homself geskiet het na ‘n boete van 475-miljoen-rand, laat ‘n boedel agter wat aan moontlike verhalingsaksies onderworpe is. Die direkteur, Paul Hoffman beklemtoon, geregtigheid duur voort na afsterwe, te midde van pogings om Jooste se sake af te handel en die boetegeld te herwin.
# Padwedlope: Die Johannesburgse Metropolitaanse Polisiedepartement waarsku pendelaars oor padsluitings en verkeersontwrigtings vandag weens die Johannesburgse Stadsmarathon. Wedlope, wat afgelê word oor 42-, 21- en tien-kilometer afstande, word gehou by die Klipriviersberg-ontspanningsentrum in Kiblerpark. Die woordvoerder van die departement, Xolani Fihla, sê verskeie paaie, wat insluit die Vereenigingpad R82, Peggy Vera-straat en die M1-Suid Booysens-oprit, is gesluit. Hy sê polisielede is ontplooi om die verkeersvloei te reël.
# En, laastens: Die Departement van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake in KwaZulu-Natal waarsku teen vlak-vyf ontwrigtende reën vandag in die noordelike dele van die provinsie. Die woordvoerder Siboniso Mngadi sê meer as 70-millimeter kan binne 24-uur uitsak. Gebiede wat getref kan word, sluit in, die Hlabisa-, Mtubatuba-, Nongoma-, Jozini-, uPhongolo- en Umhla-buyalingana-distriksmunisipaliteite. Ramphulpspanne is op bystand en gemeenskappe word aangemoedig om op veiliger plekke skuiling te soek.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….