Nuus 09:00
BULLETIN 3 Oktober 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Madlanga-kommissie gelas Feroz Khan moet agter geslote deure getuig
# Eskom teken 504 dae sonder beurtkrag aan
# En krieket: Jofra Archer gaan ook Engeland se drienasie-reeks in Pakistan misloop
# Die Madlanga-kommissie het gelas die afgedankte voormalige adjunkhoof van die SAPD se Misdaadintelligensie-eenheid, generaal-majoor Feroz Khan, moet Dinsdag agter geslote deure getuig. Khan moet sy verklaring oor sy getuienis teen 12-uur vanmiddag indien. Die kommissie sê enigiemand met toegang tot die verrigtinge mag nie opnames daarvan publiseer, uitsaai of op enige wyse versprei nie. Slegs die kommissarisse, aangewese getuienisleiers, verteenwoordigers van Diale Mogashoa Prokureurs en Khan se regspan sal toegelaat word om aanlyn die verrigtinge by te woon.
# Advokaat Amanda Nel het die ondersoekbeampte, speurder Nokukhanya Ndlovu, se getuienis bevraagteken in die borgtog-aansoek van die geskorste adjunk- nasionale polisiekommissaris, Shadrack Sibiya. Nel voer aan die reg berus nie op aannames nie en vra of daar enige bewyse is dat biskop Azwihangwi Maumela, in opdrag van Sibiya ‘n klaer gekontak het oor planne om die identiteit van die 18-jarige vrou vas te stel wat na bewering ook deur die senior polisieman verkrag is:
Nel is intussen ook bekommerd oor Sibiya se aanhouding in die Kgosi Mampuru-gevangenis in Pretoria. Nel het in die Randburgse Landdroshof gesê daar bestaan kommer oor sy se veiligheid en behoorlike raadpleging met sy regspan. Die ondersoekbeampte, speurder Nokukhanya Ndlovu, het die bewerings betwis en gesê Sibiya word om veiligheidsredes apart aangehou en die omstandighede van sy aanhouding is gepas. Sibiya se borgtogaansoek is tot Woensdag uitgestel:
# Eskom het 504 opeenvolgende dae sonder beurtkrag aangeteken en sy energiebeskikbaarheidsfaktor vir die jaar het tot dusver tot 68,11-persent verbeter. Die nutsmaatskappy sê dieseluitgawes het met 4,79-miljard-rand gedaal, ‘n afname van 80,49-persent vergeleke met die vorige jaar. Onbeplande kragonderbrekings het ook verbeter, met bykans twee-duisend-943 megawatt wat weer in gebruik geneem is. Eskom sê die aantal kliënte wat deur ladingsvermindering geraak word, het tot 202-duisend-590 gedaal, en sewe provinsies het steeds geen ladingsvermindering nie.
# Krieket: Die snelbouler Jofra Archer gaan ook later die maand Engeland se driehoekige eendagreeks in Pakistan misloop. Hy kry ruskans, terwyl die paaltjiewagter Jos Buttler en die kolwer Jacob Bethell beseer is. Die draaibouler Adil Rashid en die veelsydige Sam Curran keer terug nadat hulle van beserings herstel het, terwyl Glamorgan se draaibouler, Mason Crane, die eerste keer vir die formaat opgeroep is. Keurder Marcus North sê die reeks teen Pakistan en Sri Lanka bied aan Engeland ‘n waardevolle geleentheid om hulself onder onbekende toestande teen gedugte teenstanders te toets.
# En ten slotte: ‘n Graad 11-leerder van Gauteng het die toekenning as die Beste Senior Wetenskaplike by die 2026 Eskom Ekspo Internasionale Wetenskapuitstalling verower. Rudra Patel, van die UJ Academy Maths, Science and ICT School of Specialisation, het ‘n prys van 75-duisend-rand gewen vir navorsing oor die gebruik van plantekstrakte om die groei van koring te verbeter. Denica Swartz, ‘n graad 8-leerder van die Vrystaat, is as Beste Junior Wetenskaplike aangewys, terwyl Tshepisho Vuyo Nkosi, van Mpumalanga, die toekenning vir die Beste Ontwikkelingskool ontvang het. Daar is 25 goue, 100 silwer- en 111 bronsmedaljes by die uitstalling toegeken.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….