Nuus 09:00
BULLETIN 2 Oktober 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die regering doen stappe om die koste vir openbare vervoer-pendelaars te verminder
# Minister Motsoaledi verwelkom die Jehovahsgetuies se nuwe standpunt oor bloedoortappings
# En gholf: Die Suid-Afrikaners begin sterk in Skotland
# Die minister van Vervoer, Barbara Creecy, sê terwyl geopolitieke druk kostes vir huishoudings opjaag, bevorder die regering ‘n geïntegreerde vervoerstelsel wat ontwerp is om openbare vervoer veiliger en meer bekostigbaar te maak. Oktober is Vervoer-maand. Creecy sê haar departement is besig om die openbarevervoer-toelaagstelsel te verander na ʼn verenigde ondersteuningsmodel wat op sekere roetes vir beide bus- en taxi-operateurs beskikbaar is. Sy sê hulle beveg ook misdaad en intimidasie in die sektor:
# Die minister van Gesondheid, Aaron Motsoaledi, het Jehovahsgetuies se besluit om hul beleid oor bloedoortappings te verander, verwelkom. Die organisasie, wat meer as nege-miljoen lede wêreldwyd in meer as 200 lande en gebiede het, het voorheen vier hoofbestanddele van ‘n ander persoon se bloed op grond van ‘n gedeelte uit die Bybel geweier. Nou kan lede besluit of hulle sekere dele van die bloed wil skenk of ontvang. Die woordvoerder van die departement, Foster Mohale, sê die verbod teen bloedoortappings op grond van godsdienstige redes was ‘n groot probleem in die gesondheidsorgstelsel:
# ActionSA in Johannesburg sê die metro se verslag oor Vaardigheidsontwikkeling is gewaarborg om uitgawes by die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling te verkwis met opleiding aan werknemers. Die stadsraad het die verslag met die ondersteuning van die ANC en sy koalisie goedgekeur. Sarah Wissler van ActionSA sê die verslag identifiseer skeiding tussen departementele programme, SETA-vaardigheidsplanne en die vaardighede wat werkgewers vereis. Sy sê daar word ook erken dat bestaande programme nie ten volle die potensiaal het om jong mense se lewens te verander nie:
# Suid-Korea se president, Lee Jae Myung, het Kiëf beskuldig dat hy ʼn vertroulikheidsooreenkoms verbreek het deur die oorhandiging van twee Noord-Koreaanse krygsgevangenes bekend te maak. Oekraïne se president, Volodymyr Zelensky, het verlede week by die Verenigde Nasies se Algemene Vergadering aangekondig dat sy regering twee Noord-Koreaanse soldate aan Seoel oorhandig het. Die twee soldate was onder duisende wat Rusland se oorlog teen Oekraïne ondersteun het. Lee sê Kiëf moet verskoning vra. Oekraïne se minister van Buitelandse Sake, Andrii Sybiha, beskryf die situasie as ʼn diplomatieke misverstand.
# Gholf: Sewe Suid-Afrikaners is op die hakke van die gesamentlike voorlopers, wêreld-nommer-979 Michael Stewart van Skotland en die Australiër, Jack Buchanan, op sewe-onder-baansyfer by die Alfred Dunhill Links-kampioenskap. Die toernooi word op drie gholfbane gespeel: Carnoustie, Kingsbarns en St Andrews. Die heersende Suid-Afrikaanse Ope-kampioen, Casey Jarvis, is op ses-onder-baansyfer 66 by Carnoustie, terwyl sy landgenoot, MJ Daffue, met dieselfde telling by hom aansluit op Kingsbarns. Hennie du Plessis, Christiaan Burke, Dean Burmester, Brandon Stone en Daniel van Tonder is op vyf-onder-baansyfer ook goed geplaas.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-68-sent teen die dollar, 18-rand-77-sent teen die euro en 22-rand-3-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 86-duisend-198-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-186-dollar-76-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 105-dollar-94-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….