Nuus 09:00
BULLETIN 23 Julie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA wil hê Eskom moet rekenskap gee oor ‘n miljard rand Koeberg-debakel
# SAFTU eis ‘n totale hersiening van SETA
# En Donald Trump sê die VSA het ‘n ‘enorme’ handelsooreenkoms met Japan gesluit
# Die DA eis dat Eskom se raad en bestuurders aan die Parlement rekenskap gee vir die betaling van een-miljard-rand aan die Franse kernkragmaatskappy, Framatome, op grond van ‘n hofbevel. Die hof het bevind Eskom het opdrag gegee dat die vervanging van drie stoomopwekkers by die Koeberg-kernkragsentrale in Kaapstad opgeskort word. Kevin Mileham van die DA sê dié rampspoedige situasie is deel van ‘n groter patroon van finansiële wanbestuur by Eskom:
# Die vakbondfederasie, Saftu, eis ‘n totale hersiening van die Sektorale Onderwys- en Opleidingsowerhede se bestuur, en ʼn omkeer van die neiging na sentralisasie en politieke kaping. Dit volg ná die afdanking van die minister van Hoër Onderwys en Opleiding, Nobuhle Nkabane, weens haar omstrede aanstellings op SETA-rade. Saftu-woordvoerder, Asive Dyani, sê SETA’s moet terugkeer na hul regmatige doel om ʼn opgeleide, werkende en bemagtigde werkersklas te bou:
# KwaZulu-Natal se LUR vir Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, Thulasizwe Buthelezi, waarsku munisipaliteite om bestaande maatreëls te verskerp om werknemers se welstand en veiligheid te verseker. Msinga-munisipaliteit se brandweerhoof, Khalesakhe Mchunu, is Maandag in sy voertuig doodgeskiet. ʼn Amptenaar van die KwaDukuza plaaslike munisipaliteit, Nokulunga Happiness Mashabane, is verlede maand geskiet. LUR Buthelezi sê hierdie aanvalle op staatsamptenare wat die gemeenskap wil dien, is onaanvaarbaar en ondermyn plaaslike regering.
# President Donald Trump sê Amerika het ʼn handelsooreenkoms met Japan bereik en beskryf dit as die grootste ooit. ʼn Tarief van 15-persent sal op Japannese invoere gehef word, wat beter is as die 25-persent wat die president van 1 Augustus af wou instel. Trump het op Truth Social gesê Japan sal ook sy markte oopstel vir Amerikaanse produkte soos motors, vragmotors, rys en sekere landbouprodukte. Japan se eerste minister, Shigeru Ishiba, sê hulle sal die besonderhede van die ooreenkoms deeglik nagaan.
# Sokker: Die verdedigende kampioen in die Europese Vroue-kampioenskap, Engeland, het na die eindstryd deurgedring toe hulle Italië in Switserland met 2-1 geklop het. Italië het lank voorgeloop ná ‘n doel deur Barbara Bonansea, maar ‘n laat doel deur Michelle Agyemang het hulle ná ekstra tyd gelyk-op geplaas. Die plaasvervanger Chloe Kelly het die beslissende doel in die 119de minuut aangeteken om vir die Lionesses ‘n derde agtereenvolgende eindstryd te besorg. Engeland kom Sondag in die eindstryd teen óf Spanje óf Duitsland te staan. Kelly sê dit is ongelooflik om nóg ‘n eindstryd te haal:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-54 sent teen die dollar, 20-rand-58-sent teen die euro en 23-rand-72 sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 118-duisend-879 dollar. Die prys van goud is drie-duisend-423-dollar-875-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 68-dollar-11-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….