Nuus 09:00
BULLETIN 30 September 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Hlabisa sit die volgende stappe met die Witskrif oor Plaaslike Regering uiteen
# Die krag na drie substasies in Tshwane is herstel
# En Donald Trump verander die term “kunsmatige intelligensie” na “superintelligensie”
# Die minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, Velinkosini Hlabisa, verwelkom die Kabinet se goedkeuring van die Hersiene Witskrif oor Plaaslike Regering en sê dis belangrik om die land se plaaslikeregeringstelsel te hervorm. Die hervormings is daarop gemik om ‘n stelsel te bou wat doeltreffend, finansieel volhoubaar en aanspreeklik is, en op gemeenskappe se behoeftes reageer. Hlabisa sê sy departement sal nou ʼn gestruktureerde oorgangsplan vir plaaslike regering ontwikkel as riglyn vir die instelling van die hervormings. Hy sê elke gemeenskap moet die verskil ervaar wat ʼn funksionele plaaslike regering maak.
# Die Rethink Your Drink-veldtog sê president Cyril Ramaphosa se aankondiging van ʼn gekoördineerde reaksie op alkohol-verwante geweld moet beskou word as ʼn sperdatum vir aksie. Die president het die minister van Handel, Nywerheid en Mededinging en ander regeringsdepartemente opdrag gegee om binne 60 dae ʼn plan te ontwikkel wat alkoholverbruik betref, om alkohol-verwante geweld te verminder. Die veldtog se woordvoerder, Kashifa Ancer, sê hulle stem saam met Ramaphosa dat skadelike alkoholgebruik ʼn groot bydraende faktor in interpersoonlike geweld is:
# Die Stad Tshwane sê krag by die Lynnwood-, Mooikloof- en Willows-substasies is herstel ná ‘n ontploffing by die Waltloo-substasie, wat gister tot ‘n kragonderbreking by die Njala-toevoerstasie gelei het. Njala lewer ‘n groot deel van die metro se elektrisiteit, en die onderbreking het minstens elf primêre substasies geraak. Die burgemeester van Tshwane se woordvoerder, Samkelo Mgobozi, sê dis in hierdie stadium nie seker hoe lank dit sal duur om kragtoevoer na Phumulani, Koedoespoort en Pyramid te herstel nie:
# President Donald Trump van Amerika het ʼn uitvoerende bevel onderteken om die term Kunsmatige Intelligensie na Superintelligensie te verander wanneer dit in sy administrasie se amptelike kommunikasie gebruik word. Hy het gister in die Withuis met voorste uitvoerende tegnologiehoofde, onder andere van OpenAI, Anthropic, Nvidia, Meta en Google, vergader. Daar word strenger oorsig oor kunsmatige intelligensie gevra, en dat die tegnologie stadiger ontwikkel word. Trump sê die hoofde het ʼn “moreel bindende” dokument onderteken wat sal dien as ʼn vorm van beskerming teen moontlike gevare van KI:
# Rugby: Die voormalige Engelse kaptein Lawrence Dallaglio gaan sy medalje as wenner van die 2003-rugbywêreldbeker opveil, te midde van voortdurende finansiële probleme. Die 54-jarige is verlede jaar bankrot verklaar en het ’n versameling aandenkings uit sy loopbaan te koop aangebied. Daar word verwag die Wêreldbeker-medalje sal tussen 50-duisend- en 80-duisend-pond, ongeveer 1,1-miljoen-rand tot 1,7-miljoen-rand, sal oplewer. Dallaglio het in Engeland se oorwinning van 20-17 oor Australië in die eindstryd van 2003 in Sydney gespeel. Die veiling, wat sy medalje as naaswenner van die 2007-wêreldbeker en ander toekennings insluit, sal na verwagting sowat 3,9-miljoen-rand oplewer.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-39-sent teen die dollar, 18-rand-57-sent teen die euro en 21-rand-68-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 83-duisend-376-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-178-dollar per fynons en die prys van Brent ruolie 100-dollar-4-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….