Nuus 09:00
BULLETIN 29 September 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Kganyago waarsku oor ’n wêreldwye finansiële ineenstorting deur ‘n groot kuberaanval
# Die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke sê die vlaag van massaskietvoorvalle is ’n nasionale krisis
# En Putin gee opdrag vir die uitbreiding van die Russiese weermag
# Die president van die Suid-Afrikaanse Reserwebank, Lesetja Kganyago, waarsku ‘n groot kuberaanval kan die volgende ernstige wêreldwye finansiële krisis veroorsaak. Hy het gister in Johannesburg die hoofrede oor Afrika en geopolitiek gelewer by die derde forum van die Mapungubwe Institute for Strategic Reflection. Kganyago sê toenemende wanorde wêreldwyd, aangedryf deur geopolitiek, klimaatskokke, die gevare van kunsmatige intelligensie en hoë skuldvlakke, skep beleidsrisiko’s en bedreig finansiële bestendigheid. Hy vra dat doeltreffende regulatoriese en sekerheidsmaatreëls ingestel word om die finansiële stelsel te beskerm:
# Die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke sê die onlangse massaskietvoorvalle in die land is nie meer net ʼn reeks geïsoleerde tragedies nie, maar ʼn nasionale krisis. Agtien mense is die naweek by ʼn taverne in Wedela, Gauteng, doodgeskiet, en tien mense is by ʼn vermaaklikheidsplek in Lwandle, Kaapstad, dood. Verlede week in KwaMakhutha, KwaZulu-Natal, is elf mense doodgeskiet. Die raad se hoofsekretaris, eerwaarde Mzwandile Molo, sê die land beleef ʼn “verval van sy morele aard”:
# Die DA wil hê die Inligtingsreguleerder moet ‘n moontlike oortreding van die Wet op die Beskerming van Persoonlike Inligting ondersoek. Dit volg na ‘n datalek by Gauteng se toepassing vir die e-paniekknoppie. Michael Waters van die party sê inwoners se persoonlike inligting is moontlik blootgestel. Waters wil antwoorde hê oor hoe die voorval plaasgevind het, hoe lank die inligting toeganklik was en of die betrokke inwoners in kennis gestel is:
# Die Russiese president, Vladimir Putin, het ʼn bevel onderteken waarin hy opdrag gee dat die leër vergroot word, en dat fondse aan die ministerie van Verdediging toegeken word om dit uit te voer. Dit volg na ʼn soortgelyke opdrag in Augustus en brei die gewapende magte uit tot twee-miljoen, waarvan 1,55-milljoen aktiewe dienspligtiges is. Rusland en Oekraïne het albei stygende ongevallesyfers in hul onderskeie leërs beleef sedert die oorlog meer as vier-en-ʼn-half jaar gelede begin het.
# Sokker: FIFA-president Gianni Infantino sê hy is bereid om aansienlike verhogings in befondsing vir die wêreldbeheerliggaam se 211 lede te ondersteun. Dit volg na ‘n gesamentlike versoek deur UEFA en CONCACAF vir minstens 164-miljoen-rand per vereniging uit FIFA se kontantreserwes vir die 2027–2030-siklus. Infantino is vroeër gekritiseer oor sy “FIFA Forward Enterprise“-voorstel, waarvolgens aandele in die Wêreldbeker en ander kompetisies aan private beleggers verkoop sou word. Die voorstel is intussen laat vaar. Die FIFA-raad sal die nuwe befondsingsvoorstel volgende maand oorweeg.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-44-sent teen die dollar, 18-rand-68-sent teen die euro en 21-rand-77-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 83-duisend-227-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-129-dollar-15-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 103-dollar-72-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….