Nuus 09:00
BULLETIN 25 September 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Tau sê Suid-Afrika wil ‘n vennootskap met die VSA sluit oor kritieke minerale
# SAFTU sê die land se grootste krisis is nie inflasie nie, maar werkloosheid
# En rugby: Vusi Moyo sal die Sharks se aanval teen die Ospreys lei
# Die minister van Handel, Nywerheid en Mededinging, Parks Tau, sê Suid-Afrika is gereed om met Amerikaanse maatskappye wat op soek is na veilige bronne van kritieke minerale en industriële insette te onderhandel. Hy het deelgeneem aan die Kritieke Metale Rondetafel in New York. Die minister het die stigting van ‘n Suid-Afrikaans-Amerikaanse Kritieke Minerale Werkgroep voorgestel. Tau sê Suid-Afrika kan bydra tot mineralebronne, verwerking, industriële infrastruktuur en toegang tot waardeskakels in streke, terwyl Amerika kapitaal, tegnologie, markte, industriële kennis en langtermyn-aanvraag kan bring.
# Die Suid-Afrikaanse vakverbond, SAFTU, het weer gevra dat inflasieteikens vervang word met ‘n ontwikkelingsgerigte monetêre beleid met indiensneming, nywerheidsontwikkeling, produktiewe belegging en volhoubare ekonomiese groei as basiese doelwitte. Dit volg nadat die Reserwebank se Monetêre Beleidskomitee besluit het om die terugkoopkoers met 25 basispunte tot 7,25-persent, en die prima uitleenkoers tot 10,75-persent te verhoog om inflasie te beheer. SAFTU-woordvoerder Asive Dyani sê die land se grootste krisis is nie inflasie nie, maar werkloosheid:
# Die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party vra wetstoepassingsagentskappe om georganiseerde misdaadnetwerke te ontbloot en bedreigings vir die werkersklas- en landelike gemeenskappe te verminder. Dit volg op die massaskietery waarin elf mense vroeër die week in die KwaMakhutha-township, KwaZulu-Natal, dood is. Voorlopige ondersoeke dui op ‘n vete tussen mededingende groeperings as motief vir die moorde. Die SAKP sê die land benodig gemeenskapsveiligheidstrukture, verantwoordbare polisiëring, behoorlik toegeruste polisiestasies, oorlewingsdienste vir slagoffers van geweld, en beslissende optrede teen infrastruktuurmisdaad en afpersing.
# President Donald Trump sê Amerika en China kan voortgaan om ‘n verhouding te bou wat voorspoed en veiligheid vir toekomstige geslagte sal bevorder. Hy het ‘n staatsdinee vir die Chinese president Xi Jinping gehou en dit was sy eerste besoek aan die Withuis in meer as ‘n dekade. Die besoek vind plaas in ‘n kritieke tyd vir betrekkinge oor verskeie kwessies tussen die twee lande, onder meer kunsmatige intelligensie, handel en die oorlog met Iran. Trump sê hulle werk aan ‘n meer gebalanseerde handelsverhouding, insluitend nuwe marktoegang vir Amerikaanse boere:
# Rugby: Die Haaie se hoofafrigter, JP Pietersen, het ʼn opwindende wedstryd-groep van 23 aangewys vir Saterdag se eerste Verenigde Rugbykampioenskap-wedstryd teen die Ospreys op Kingspark. Die gewese Junior Bok, Vusi Moyo, sal die aanval lei op losskakel, saam met skrumskakel Jaden Hendrikse. Nick Hatton is in die nommer 8-trui is kaptein, en voltooi die losvoorspelers saam met Manu Tshituka en Phepsi Buthelezi. Dis die eerste keer in die toernooi se geskiedenis dat die Haaie hul veldtog op hul tuisveld afskop.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-42-sent teen die dollar, 18-rand-67-sent teen die euro en 21-rand-69-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 84-duisend-99-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-269-dollar-24-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 103-dollar-39-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….