Nuus 09:00
BULLETIN 11 Maart 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA sê die Departement van Openbare Werke slaag nie daarin om staatsgeboue te bestuur nie
# Die SAKP vra vir beslissende optrede oor die uitgelekte ANC-kandidatelys
# En, Oppenheimer wen die belangrikste toekennings by die Oscars, insluitend Beste Rolprent
# Die DA sê die Departement van Openbare Werke en Infrastruktuur se batebestuursrekord het ‘n nasionale las geword. Die departement het ʼn interne ondersoek begin na die wanbestuur van die Telkom-toringkompleks wat die Suid-Afrikaanse Polisiediens se hoofkwartier in Pretoria huisves. Dit volg nadat die gebou onbewoonbaar verklaar is. Die departement het tans 56-duisend-393 geboue onder sy toesig. Sello Seitlholo van die DA sê die departement se mandaat om regeringsgeboue te bestuur, moet hersien word:
# Die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party sê die uitlek van die ANC se kandidatelys vir die verkiesing lyk na deel van die breër reaksionêre agenda om die regerende party uit die kussings te lig. Die lys wat persoonlike inligting oor die ANC se nasionale en provinsiale kandidate bevat, het op sosiale media verskyn kort nadat die party dit verlede Vrydag by die Onafhanklike Verkiesingskommissie ingehandig het. Die SAKP sê doeltreffende regstelling moet plaasvind om die skadelike uitwerking daarvan op die komende verkiesing en elke persoon op die lys aan te spreek.
# Die Wes-Kaapse LUR vir Mobiliteit, Ricardo Mackenzie, het kommer uitgespreek oor die aantal padsterftes wat die afgelope paar weke op die provinsie se pad aangeteken is. Die naweek is 13 mense dood in ‘n busongeluk op die N1 by die Hexrivierpas naby De Doorns. Voorlopige verslae dui daarop dat die bestuurder van die bus beheer verloor het en met ‘n vragmotor gebots het en toe ‘n rotswand getref het. Mackenzie sê die bus met 60 passasiers was op pad na Kaapstad:
# Sokker: Die heersende kampioene, Manchester City en Liverpool, het ʼn gelykoptelling behaal by Anfield terwyl die stryd om die Premierliga-titel verskerp. John Stones se doel in die eerste helfte het die besoekers ʼn voorsprong gegee, maar Alexis Mac Allister van die tuisspan se strafskop vroeg in die tweede helfte het die speelveld gelyk gemaak. Die voorlopers, Arsenal, het slegs een doel meer as Liverpool terwyl City net een punt agter hulle in die derde plek is. City se bestuurder, Pep Guardiola, sê dit was ʼn taai wedstryd teen ʼn ongelooflike span:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-78-sent teen die dollar, 20-rand-55-sent teen die euro en 24-rand-14-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 68-duisend-728-dollar-6-sent. Die prys van goud is twee-duisend-180-dollar-93-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 81-dollar-49-sent per vat.
# En, om mee af te sluit: Die biografiese rolprent, Oppenheimer, het sewe uit 13 toekennings gewen waarvoor dit by die 96ste Academy Awards benoem is. Dit sluit beste fliek, beste regisseur vir Christopher Nolan, en beste akteur vir Cillian Murphy in. Emma Stone is aangewys as beste aktrise vir haar rol in Poor Things. Die Holdovers-ster Da’Vine Joy Randolph is die beste ondersteunende aktrise terwyl die Oppenheimer-akteur, Robert Downey Junior, met die toekenning vir beste ondersteunende akteur spog. Barbie, wat verlede jaar die meeste geld by die loket gemaak het, het een toekenning ontvang vir die beste oorspronklike liedjie deur Billie Eilish en haar broer Finneas.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….