Nuus 09:00
BULLETIN 3 Augustus 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Tesourie wil verseker dat hervormings tot meetbare verbeterings lei
# Die Tshwane-stadsbestuurder, Johann Mettler, is terug by die werk
# En Donald Trump sê nuwe onderhandelinge met Iran sal vandag begin
# Nasionale Tesourie sê hoewel die globale ekonomiese omgewing onseker bly, verbeter Suid-Afrika se mededingendheid danksy die volgehoue implementering van strukturele hervormings. Dit verminder ook beperkings op groei en lê die grondslag vir meer private beleggings. Die regering het verlede week Operasie Vulindlela se eerste kwartaalverslag vir 2026 vrygestel. Dit toon volgehoue vordering met hervormings om die prestasie van netwerkbedrywe te verbeter. Die Tesourie sê die fokus is nou op die versnelde lewering, die oplos van oorblywende knelpunte en die versekering dat hervormings sal lei tot meetbare verbeterings in infrastruktuur, dienslewering en ekonomiese prestasie.
# Die Suid-Afrikaanse Vereniging van Plaaslike Regerings sê met slegs drie maande oor voor die plaaslikeregeringsverkiesing, sal hy in Augustus en September provinsiale ledevergaderings in alle provinsies belê. Dit dien as strategiese platform om vordering te hersien, probleme te takel en die toekomstige koers van plaaslike regering te vorm. SALGA-woordvoerder, Motalatale Modiba, sê belangrike punte op die agenda sluit in ‘n verslag oor die instelling van die 2026/2027-verslag oor jaarlikse prestasie, beoordeling van organisatoriese prestasie en voorbereiding vir die oorgang na die sewende administrasie:
# Tshwane-burgemeester Nasiphi Moya sê die stadsbestuurder, Johann Mettler, het sy pligte hervat. Die Gautengse Hooggeregshof het beslis die raad-speaker, Mncedi Ndzwanana, het verkeerdelik 13 stemme verwerp voor hy verklaar het Mettler word volgens ʼn raadsbesluit geskors. Die hof het bevind die speaker het nie gesag om te besluit watter raadslede se stemme tel nie. Mettler keer terug werk toe terwyl die hof vasstel of sy skorsing wettig was. Moya se woordvoerder, Samkelo Mgobozi, sê die burgemeester erken die regbank se rol in hierdie soort geskille:
# President Donald Trump van Amerika sê onderhandelings met Iran hervat vandag. Dit volg ná sy besluit om alle beplande aanvalle op te skort met die voorwaarde dat ʼn ooreenkoms vinnig bereik word. Hy sê Amerikaanse bondgenote in die Midde-Ooste en Iran het hom gevra om die beplande aanval te kanselleer. Die Iranse staatsmedia ontken dit egter. Trump het aan joernaliste op Air Force One gesê dit sou die grootste aanval sedert die Tweede Wêreldoorlog wees:
# Krieket: Die Wes-Indiese openingskolwer Brandon King glo hulle kan ‘n groot eerste beurt-totaal bereik in die tweede en laaste toets teen Pakistan in Trinidad. Die veelsydige Justin Greaves was teen uitskeityd op dag een op 64 nie uit nie, en kaptein Roston Chase op 36, vir ‘n telling van 239 lopies vir vyf. Die Windies loop 1-0 voor in die reeks van twee toetse nadat hulle met 90 lopies in Tarouba gewen het. Die uitslag het die Windies se totaal op die Wêreldtoetskampioenskaps-punteleer tot 30 punte laat styg, waar hulle net voor Pakistan in die agtste plek is.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-46-sent teen die dollar, 18-rand-98-sent teen die euro en 22-rand-17-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-867-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-69-dollar-57-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 87-dollar-36-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….