Nuus 09:00
BULLETIN 21 November 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Sakeliga beskuldig die Departement van Landbou dat hy agteraf ‘n AgriBEE-plan instel
# Minister Nzimande sal vandag besonderhede bekendmaak oor die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente se aansoekproses wat hierdie week open
# En, Africa4Palestine verwelkom die terugroep van Israel se ambassadeur in Suid-Afrika
# Sakeliga sê die Departement van Arbeid, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling het in die geheim ʼn onwettige AgriBEE-afdwingingsplan ontwikkel en gedeeltelik ingestel. Die sake-organisasie sê hy het dokumente bekom oor die plan wat ʼn aansienlike mediumtermyn gevaar inhou vir landbouproduksie, in- en uitvoer, en voedselsekerheid in Suid-Afrika. Sakeliga se uitvoerende hoof, Piet le Roux, sê die AgriBEE-afdwingingsplan sal invoer en uitvoer beperk tot die rassesamestelling van maatskappye:
# Befondsingsaansoeke vir die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente vir die volgende akademiese jaar sal hierdie week open. Ten spyte van uitdagings wat vertraagde toelaes veroorsaak, kan duisende voornemende studente aansoek doen vir befondsing om by openbare hoëronderwys-instellings te studeer. Die minister van Hoër Onderwys, Blade Nzimande, sal na verwagting vandag besonderhede oor die aansoekproses verskaf. Die aansoektydperk van twee-maande sal tot einde Januarie duur, wat voorsiening maak vir die voltooiing van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens se belastingtydperk. Voornemende studente word versoek om stiptelik aansoek te doen om die stormloop op die laaste oomblik te vermy.
# Die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit se brandweerdiens hou ʼn brand dop in die De Wet-gebied buite Worcester, in die rigting van De Doorns. Die munisipaliteit se woordvoerder, Jo-Anne Otto, sê dit brand tans in die hoogste, ontoeganklike pieke en klowe van die berge bokant die plase. Sy sê die brand word aangedryf deur ʼn kombinasie van sterk wind en ou plantegroei. Otto sê ses brandweervoertuie en bemannings sal in die gebied bly om dit te monitor:
# Die menseregteorganisasie Africa4Palestine het Israel se besluit verwelkom om sy ambassadeur in Suid-Afrika, Eliav Belotserkovsky, terug te roep. Dit volg dae nadat president Cyril Ramaphosa bevestig het die land het ʼn verwysing teen Israel by die Internasionale Strafhof ingedien oor sy militêre veldtog in Gaza. Daar is ook oproepe dat die Israelse ambassade in Suid-Afrika gesluit word. Africa4Palestine sê dis ʼn belangrike stap om, soos hy dit beskryf, Apartheid Israel aanspreeklik te hou vir sy oortreding van internasionale reg.
# Gholf: Die dubbele PGA-toernooi-kampioen, Erik van Rooyen, en die Major-wenners Louis Oosthuizen en Charl Schwartzel lei ʼn sterk groep vir volgende maand se Alfred Dunhill-kampioenskap. Die wenners van agt van die afgelope nege toernooie, insluitend Schwartzel met ʼn rekord van vier oorwinnings, sal deelneem. Ockie Strydom sal probeer om slegs die derde speler in die Alfred Dunhill-kampioenskap se geskiedenis te word om sy titel suksesvol te verdedig. Die toernooi vind volgende maand van die sewende tot die tiende by die Leopard Creek-buiteklub in Mpumalanga plaas.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-27-sent teen die dollar, 20-rand-3-sent teen die euro en 22-rand-90-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 37-duisend-447-dollar-3-sent. Die prys van goud is een-duisend-991-dollar-45-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 81-dollar-96-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….