Nuus 09:00
BULLETIN 22 Julie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die VF Plus sê Nkabane se posisie het onhoudbaar geword
# Die IVP eis ‘n onafhanklike ondersoek na politieke moorde
# En “Theodore Huxtable” van The Cosby Show is oorlede
# Die Vryheidsfront Plus sê die afgedankte minister van Hoër Onderwys en Opleiding, Nobuhle Nkabane, moenie in ‘n ander belangrike regeringspos aangestel word nie, want dit sal ʼn bespotting van aanspreeklikheid maak. Haar afdanking kom te midde van korrupsiebewerings oor die aanstelling van die 21 SETA-rade se voorsitters, wat ANC-lede ingesluit het. Die VF Plus-woordvoerder, Wynand Boshoff, sê hulle verwelkom Buti Manamela se aanstelling as die nuwe minister:
# Die president van die Inkatha Vryheidsparty, Velenkosini Hlabisa, het kommer uitgespreek oor die onopgelosde moorde op politieke ampsdraers, en vra vir ‘n onafhanklike ondersoek. Hlabisa het aan die media gesê na die ernstige aantygings teen die polisie deur die polisiekomissaris van KwaZulu-Natal, Nhlanhla Mkhwanazi, is ‘n ondersoek deur die polisie nie voldoende nie. Hy het beklemtoon die herstel van openbare vertroue in veiligheidsinstellings is ’n topprioriteit, en ondersteun die besluit om minister van Polisie, Senzo Mchunu, op spesiale verlof te plaas:
# Die polisie het vier mans, insluitend ʼn Sandtonse sakeman, gearresteer in verband met die moord op DJ Oupa John Sefoka, ook bekend as DJ Sumbody. Hy is in November 2022 in Woodmead, Johannesburg, in ʼn vermeende sluipmoord doodgeskiet. Nog ʼn persoon is in die lokval dood. Die nasionale polisiewoordvoerder, Athlenda Mathe, sê drie van die verdagtes is vermoedelik sluipmoordenaars en die vierde het vermoedelik opdrag vir die moord gegee:
# Krieket: Engeland het die draaibalbouler, Liam Dawson, vir die vierde toets teen Indië opgeroep as plaasvervanger vir die beseerde Shoaib Bashir. Dit sal die 35-jarige se eerste toets sedert Julie 2017 wees. Jofra Archer is ook in die span, na die oorwinning op Lord’s, terwyl Brydon Carse, Chris Woakes en kaptein Ben Stokes nog meer naatopsies sal bied. Engeland is met 2-1 voor in die reeks en gaan probeer om die vierde toets, wat môre in Manchester begin, ook in te palm.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-61-sent teen die dollar, 20-rand-59-sent teen die euro en 23-rand-74-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 117-duisend-144-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-390-dollar-42-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 67-dollar-95-sent per vat.
# En ten slotte: Die akteur Malcolm-Jamal Warner, veral bekend vir sy rol as Theodore Huxtable in die gewilde 1980’s sitcom, The Cosby Show, is in die ouderdom van 54 jaar oorlede. Hy was na wat berig word op ‘n gesinsvakansie in Costa Rica toe hy verdrink het toe hy gaan swem en in ‘n sterk stroom beland het. Warner is in 1986 vir ‘n Emmy vir The Cosby Show benoem. Warner het ook in die sitcom Malcom & Eddie gespeel wat vir vier seisoene uitgesaai is asook Reed between the Lines, Sons of Anarchy en The Resident.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….