Nuus 09:00
BULLETIN 19 September 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Thoko Didiza vertrou die geskil oor Amerikaanse visums sal opgelos word
# BOSA herhaal sy pleidooi vir salarisdeursigtigheid om ongelyke lone te bekamp
# En: Trump sê Amerika en Denemarke bereik ‘n ooreenkoms oor Groenland
# Die Speaker van die Nasionale Vergadering, Thoko Didiza, is optimisties die geskil oor Amerikaanse visumbeperkings wat sekere Suid-Afrikaners raak, kan binnekort opgelos word. Amerika sê die beperkings is gemik op persone wat verbind word met sekere beleid wat verband hou met grond, ras en geweld. Didiza sê diplomatieke samesprekings tussen Pretoria en Washington duur voort, met ambassadeur Roelf Meyer wat ook gesprekke voer. Die Minister van Handel, Nywerheid en Mededinging, Parks Tau, het aan die SABC bevestig samesprekings word volgende week gehou:
Intussen is die minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Ronald Lamola, in Washington vir ‘n reeks diplomatieke gesprekke ná die visumbeperkings. Lamola sal ‘n geleentheid van die Congressional Black Caucus Foundation bywoon en met lede van die Amerikaanse Kongres vergader voordat hy New York toe gaan vir die Verenigde Nasies se Algemene Vergadering. Suid-Afrika verwerp Amerika se bewerings en sê dit is ‘n wanvoorstelling van die land se binnelandse beleid. Lamola sal na verwagting ook saam met die Amerikaanse senator, Bernie Sanders, ‘n geleentheid in New York bywoon.
# Die voorsitter van die Staatsdienskommissie, professor Somadoda Fikeni, bevraagteken of Suid-Afrika se intelligensiedienste bedreigings van nasionale belange voldoende kan identifiseer. Fikeni het voor die Madlanga-kommissie gevra of intelligensie hoofsaaklik op eksterne bedreigings fokus, in plaas van op binnelandse risiko’s. Hy voer aan dat nasionale veiligheidsprioriteite duidelik geïdentifiseer en met toepaslike vlakke van ingryping, senioriteit, kundigheid en hulpbronne verbind moet word:
# Build One South Africa sê sy voorgestelde wetsontwerp oor billike vergoeding sal werkgewers verbied om werksaansoekers oor hul salarisgeskiedenis uit te vra wanneer daar besluit word watter vergoeding hulle moet ontvang. Graham Charters van BOSA sê die wetsontwerp sal werknemers ook die reg gee om hul vergoeding en salarisaanbiedinge met kollegas te bespreek. Charters sê die maatreëls is daarop gemik om onbillike loonverskille te verminder:
# Amerika, Denemarke en Groenland het ‘n ooreenkoms bereik wat Washington toelaat om sy militêre teenwoordigheid op die eiland aansienlik uit te brei. President Donald Trump sê die ooreenkoms sal ook verhoed dat teenstanders militêre basisse in Groenland vestig of sensitiewe beleggings daar maak sonder Amerikaanse goedkeuring. Reuters het vroeër berig Amerika en Denemarke is na aan ‘n ooreenkoms wat tot ‘n groter Amerikaanse militêre teenwoordigheid in Groenland sal lei, maar nie ver genoeg vir Trump se jarelange strewe om die eiland deel van die Verenigde State te maak nie.
# En tennis: Die Tsjeggiese Republiek en die Verenigde State is gelykop in hul Davisbekerkragmeting in Praag, nadat Jiří Lehečka die Amerikaanse Ope-naaswenner, Ben Shelton, met 6-4, 6-4 verslaan het. Learner Tien het Jakub Menšík vroeër in skoon stelle geklop. Die ander wedstryde word vandag beslis, met ’n dubbelspelwedstryd, gevolg deur twee enkelspelwedstryde. Intussen is Suid-Korea een oorwinning weg van sy eerste Davisbeker-kwarteindstryd nadat hy Indië in Seoel met twee-nul geklop het. Die naweek se sewe wenners sal saam met die verdedigende kampioen, Italië, in November aan die agt-span-eindstryd in Bologna deelneem.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….