Nuus 09:00
BULLETIN 18 September 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA sê die Konstitusionele Hof se uitspraak oor die Wet op Openbare Verkryging beskerm fiskale outonomie
# ‘n Burgerlike Samelewingsforum vra vir praktiese maatreëls om vroue se veiligheid te verbeter
# En motorsport: ‘n Bekende Suid-Afrikaanse renjaer is in Kemptonpark doodgeskiet
# Die DA sê die Konstitusionele Hof se uitspraak wat die Wet op Openbare Verkryging ongrondwetlik en ongeldig verklaar, is ‘n oorwinning vir grondwetlike afwenteling. Die Wes-Kaapse regering en die amaBhungane-sentrum vir ondersoekende joernalistiek het die parlementêre proses uitgedaag, insluitend die hantering van Hoofstuk 4, wat handel oor die gebruik van openbare verkryging in die bevordering van maatskaplik-ekonomiese hervorming. Leon van Wyk van die DA sê die uitspraak keer die Nasionale Tesourie se poging om ʼn gesentraliseerde, eenvormige voorsieningsketting-raamwerk op alle provinsiale en munisipale sfere af te dwing:
# Die minister van Handel, Nywerheid en Mededinging, Parks Tau, het die Internasionale Handelsadministrasie-kommissie versoek om Suid-Afrika handelsbeleid oor papierprodukte te hersien. Dit volg op versoeke van plaaslike vervaardigers vir hoër pryse vir internasionale papierprodukte aangesien hulle sukkel om mee te ding met goedkoper ingevoerde produkte, hoër elektrisiteit en vervoerkoste, en druk op winsgrense. Tau sê as hierdie uitdagings nie suksesvol aangespreek word nie, staan die ekonomie gevaar om belangrike industriële beleggings, werkgeleenthede en die ekonomiese bestendigheid van verskeie plattelandse gemeenskappe wat op hierdie sektor aangewese is, te verloor.
# Die Burgerlike Samelewingsforum van die Suid-Afrikaanse Nasionale Vigsraad het die moord op nege vroue in Ekurhuleni veroordeel en sê dit beklemtoon die ernstige en voortslepende geslagsgeweld en vrouemoord in die land. Kemptonpark is tans ingeperk terwyl ondersoeke na die moorde voortgaan. Die forum se woordvoerder, Karabo Makgato, vra ʼn dringende veiligheidsbepaling in gebiede waar vroue veral kwesbaar kan wees. Hy sê die uitslag moet lei tot praktiese maatreëls wat gevare verminder en vroue se veiligheid verbeter:
# Die Amerikaanse president Donald Trump het herhaal dat Iran ‘n ooreenkoms wil bereik maar nog nie bereid is om die voorwaardes wat hy meen nodig is, te aanvaar nie. Een van die grootste probleme is die Straat van Hormoes, die strategiese waterweg waardeur ‘n aansienlike deel van die wêreld se olie normaalweg beweeg. Ontwrigting in die Straat het druk op wêreldwye energiemarkte geplaas. Trump sê hy het die keuse om Iran te verwoes of nie, en hy voeg by dat enige iets kan gebeur:
# Motorsport: Die bekende Suid-Afrikaanse renjaer, die 41-jarige Robert Wolk, is in Kemptonpark, Ekurhuleni, doodgeskiet. In sy loopbaan van byna drie dekades het hy sukses behaal in items soos knortjorre, toermotors en ander baanwedrenne. Sy prestasies sluit in die Suid-Afrikaanse Junior Knortjor-kampioenskap-titels in 1995 en 1997, en talle Formule Ford-kampioenskappe. Hy het vanjaar sy tweede Simola Hillclimb-titel as “King of the Hill” opgeraap. Motorsport Suid-Afrika sê Wolk se dood laat ʼn groot leemte in die sport.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-23-sent teen die dollar, 18-rand-65-sent teen die euro en 21-rand-70-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 77-duisend-197-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-355-dollar-73-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 105-dollar per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….